Saam met Jesus aan die kruis
Om hierdie gedeelte reg te verstaan moet ons in gedagte hou dat die Jode van ouds nie gedink het alle mense is sondaars nie. Hulle het geglo dat slegs die mense wat nie streng volgens die wet leef nie, sondaars is. En Paulus wou juis aan hulle verduidelik dat niemand vrygespreek word omdat hy die wet onderhou nie, maar omdat hy glo in Jesus Christus.
19… Al het die wet my skuldig verklaar omdat ek dit oortree het, leef ek nou vir God. Want ek is saam met Christus gekruisig. Toe Hy aan die kruis gehang het, is ek saam met Hom daar vasgespyker. Daarom is ek nou ’n nuwe mens. Daardie ou, sondige ek is iets van die verlede; dood en begrawe. Christus leef nou in my.
Paulus wil dus ’n hoopvolle prentjie skets. ’n Prentjie waar jou redding nie meer van jouself afhang nie, maar slegs omdat jy glo in dit wat Jesus vir jou en my kom doen het.
Jy sien, die persoon wat glo dat Jesus vir sy sonde gesterf het, is vry. Vry van ’n klomp moets en moenies voordat jy vrygespreek kan word. Kyk hoe mooi en eenvoudig sê vers 14 dit: …God skryf net dié mense se sondes af wat in Jesus Christus glo. En dit is presies wat ek en julle gedoen het: Ons het in Christus Jesus begin glo. Dit is hoe God ons van al ons sondes vrygespreek het.
Sjoe! Dis mos nou hoe genade lyk.
Maar ons moet nooit versuim om te besef dat Jesus se kruisdood nie maklik was nie. Ons moet onsself probeer indink in sy gevoelens en fisiese swaarkry terwyl Hy die Via Dolorosa gestap het. Hy het so swaar gekry dat Hy later eenvoudig net te swak was om sy eie kruis te dra. Die dorings het deur sy vleis gesteek. Die swepe met stukkies klip het op sy liggaam geklap en nog skade aan sy lyf gemaak.
En dan daar aan die kruis waar die spykers deur sy hande en voete geboor het…
Ons is die oorsaak van sy kruisdood. Ons dade het dit nodig gemaak dat daar ’n Verlosser moes kom. Ja, ons moes eintlik daar gehang het, maar Jesus het in ons plek gesterf sodat ons vandag vir Hom kan leef.
Maar ons moet ook onthou: Ons redding is maar net die beginpunt van ons geloofspad saam met God. Jesus het wel in ons plek gesterf sodat ons gered kan word, maar dit het ook ’n nuwe mens van my en jou gemaak. ’n Mens wie se sonde afgeskryf is deur genade. ’n Mens wat nie meer bagasie van die sonde agterna hoef te sleep nie. Ja, ons is nou nie meer slawe van die sonde nie. Ons is vrygemaak van die juk van sonde wat ons nie wou los nie.
Watter wonderlike nuus! Ons kan dit mos nie vir onsself hou nie! Daar is soveel mense daar buite wat dit nog moet hoor. Daar is soveel christene wat die waarheid van redding mis en dink dat hulle goeie werke hulle in die hemel gaan kry.
Kom ons verkondig die waarheid van redding slegs deur geloof in Jesus Christus. En kom ons bring daarna ons dade in lyn met Jesus se voorbeeld sodat ons gehoorsaamheid aan Hom van ons liefde en dankbaarheid kan getuig.
Teks
Om oor na te dink
Leef Jesus in jou?
Kan ander dit sien?
Vir wie moet jy help?
Gebed
Vader, ons kan nie genoeg dankie sê dat Jesus vir ons sondes aan die kruis gesterf het nie. Sy bloed het ’n nuwe lewe vir ons moontlik gemaak. U genade is onbeskryflik groot. Vat my hand en stap saam met my op my geloofsreis saam met U. Lei my op die pad van gehoorsaamheid, nie om gered te word nie, maar uit dankbaarheid vir wat U vir my gedoen het. Amen