Saamgespan
Voordat ek voltyds met Kruispad begin het, het ek by ’n fabriek gewerk. Daar het ons elke Vrydag ’n Xhosa predikant gevra om God se boodskap te bring. Maar wanneer hy dit nie kon maak nie moes ek inspring.
Gelukkig tolk Vusi vir my en ons ken mekaar se praat al goed. Ek is nog nie klaar nie dan spring Vusi al in met die vertaling, maar op ’n manier hoor ek dat dit nie net die woorde is wat vertaal word nie, maar ook die emosies. Ons eindig gewoonlik op ’n hoogtepunt soos ons mekaar aanhits.
Dis ’n voorreg.
Tog is dit nie altyd so maklik nie, want jy weet nie of jy die bal altyd raakslaan nie. Party sit oop en bloot met toe oë – ek wonder of hulle slaap. Ander kyk by die venster uit, maar tog is daar ’n paar wat so nou en dan knik.
Dan jaag ek die vertwyfeling by die deur uit, want saai sal ek saai. Die groeiwerk is Iemand anders se werk.
Partymaal haak selfs Vusi vas en ek hoor sommer hy maak sy eie storie op, maar dis ook goed, want ek weet die Heilige Gees is nie van interpretasies of vertalings afhanklik nie.
Paulus help vir my en Vusi met die bring van ’n boodskap: Staan saam in die verkondiging van die Boodskap. 27… Ek wil net goeie dinge van julle hoor, of ek nou na julle toe kom of nie. Ek wil hoor dat julle soos een man saamstaan en alles doen om ander mense te oortuig dat die goeie boodskap regtig goed is.
Ek en Vusi staan voor ’n groot verskeidenheid van mense: Xhosa, Engels, Kaapse Afrikaans, en nog meer, met 3 Bybels in die hand. Ek lees Afrikaans, Vusi Engels en en een van die vrouens Xhosa. En al wat ons probeer, is om as ’n span die Boodskap van God oor te dra. Al is daar soms uitbarstings van lag oor Vusi se krom vertaling, weet ek dat God met ’n moewiese glimlag sit, want sy span probeer. Maak nie saak hoe krom die stok is nie, dis ’n hole in one!
Ons almal het ’n opdrag: Staan saam as ’n span en neem God se Boodskap na die mense daar buite. Die wêreld het dit beslis nodig. Hulle smag daarna! Die mense gaan een vir een ten gronde sonder die Boodskap van God.
Hoekom hou jy terug, al weet jy jy word kort-kort gekonfronteer met die roeping om net iets vir iemand te sê of te doen? Is jy bang die mense lag vir jou? “Nee, Here. Ek is nie ’n dominee nie.”
Sorry pêl. Jy word geroep net soos jy is.
Kry die span by mekaar en begin net. Weet jy hoeveel nood is daar in jou invloedsfeer?
Anna is die stilste in die fabriek, maar werk die hardste. Sy kom een oggend, nadat ons God se Woord gebring het, na my toe met oë vol trane: Meneer, my man en kind is al vir 5 jaar dwelmverslaafdes. Hulle bring niks geld in nie en steel myne vir dwelms. Ek kan nie meer nie. “Dankie vir vanoggend se boodskap”, sê sy. Dit het vir my baie beteken.”
Ek en Vusi en die ander het saamgestaan met die verkondiging van die Evangelie. Dit is meer as net tolk-tolk speel. Die Evangelie vat eers grond as ons span op ’n manier ons hande uitsteek na Anna en met genade van Bo ’n verskil kan maak!
Om oor na te dink
Aan wie moet jy die Boodskap bring?
Glo jy dat God jou krag sal gee?
Wie is jou spanmaats?
Gebed
Here, ek weet U Boodskap moet uit. Ek weet daar is soveel mense daar buite wat U verlossende Boodskap nodig het. Help my om met die Groot Opdrag te help. Help my om saam met die mense rondom my ’n verskil te maak orals waar ons gaan. Amen