Saans gousblom. Soggens molshoop.
My pa het altyd van die jeukerige jongmense gesê: “Saans gousblom. Soggens molshoop!” En eintlik is dit so ’n goeie beskrywing van die mooi opgemaakte en aangetrekte mensies wat die volgende oggend tot laat lê, om net weer hulle krag bymekaar te maak.
Baie mense leef vir die skop van die aand, maar dis amper soos Aspoestertjie, waar alles na 12-uur weer terugkeer na normaal en ’n mens net weer terug is by jou ou lewe.
Ander mense leef weer vir die naweek. Die een radiostasie waarna ek luister, tel die dae van Maandag af en kan nie wag vir die naweek nie. Elke Vrydagoggend is dit lente en kan die mense nie wag vir die speeltyd van die naweek nie, net om Sondagaand agter te kom alles is nou verby en môre begin die count down na die volgende naweek.
Gousblom Vrydagaand en molshoop Maandagoggend.
Die opwinding van ’n aand uit of ’n naweek van kuier is vlietend. Dit hou nie vir altyd nie. Êrens langs die pad droog dit op en moet ’n mens eers weer wag vir die volgende aand uit of die naweek.
So is dit met baie dinge in die wêreld. Roem of geld hou nie. Mooi karre en groot huise het eintlik niks te make met geluk nie. Soos mis voor die son, verdwyn hierdie mensgemaakte geluk.
Jakobus gebruik ’n eenvoudige storie om dit te verduidelik: 10… Rykdom of status hou nie lank nie, net soos ’n wilde blommetjie in die veld. In die oggend lyk die blommetjie te pragtig. 11Maar dan begin die son bak. Teen die middag hang daardie mooi blommetjie verlep en teen die aand is daar niks van hom oor nie. Die blaartjies lê saam met die mooiheid van die blommetjie verskroei op die grond. So is die pad van rykdom. Die ryk man sal tussen al sy status en geld ook maar soos die blommetjie verlep en sterf. En wat help dit alles hom dan?
Ja, wat help dit as ’n blommetjie so deur die son verbrand word? Nie veel nie.
Baie mense sien dit nie raak nie. Baie mense jaag roem en rykdom na en dink dis waar hulle regtig gelukkig gaan wees. Maar hulle kyk egter deur verkeerde bril. Die bril laat hulle verkeerd sien. Hulle sien nie raak dat die roem en rykdom eintlik maar net tydelik is en nie werklike vrede en geluk bring nie.
Ons moet eerder deur God se bril kyk om te sien waar dinge lê wat werklik waarde het. Met hierdie bril op, sal ons sien watter dinge binne ’n dag verlep en watter vir ewig hou.
Dennis Barnhard het sy rekenaarmaatskappy vinnig opgebou en besluit om dit na die aandelemark te neem. Vinnig is die aandele opgeraap. Van hierdie uitstappie maak Dennis se maatskappy amper R500 miljoen. Dieselfde middag bars Dennis met sy Ferrari deur ’n keermuur en sterf. ’n Blom wat net te gou deur die winde van die lewe verdor is.
Saans gousblom. Soggens molshoop.
Teks
Jakobus 1:9-11
Om oor na te dink
Jaag jy ook blomme na?
Het van jou blomme ook al verdroog?
Hoe sit jy God se bril op?
Gebed
Vader, ek weet dat ek soms verkeerde blomme najaag. Blomme wat te gou deur die winde van die lewe verdor word. Help my om my energie op die regte plek te gebruik, sodat ek ware waarde deur U oë kan sien. In Jesus se Naam. Amen.