God se Woord in vandag se woorde

Seën laat strek na meer


Om ’n seën oor iemand of iets uit te spreek, was redelik algemeen in die Bybel. Sommer daar in die eerste hoofstuk spreek God die seën oor die see diere en voëls deur vir hulle te sê om vrugbaar te wees en te vermeerder op aarde.

Net ’n entjie verder spreek God amper dieselfde seën oor Adam en Eva uit en voeg by dat hulle moet heers oor die aarde.

’n Seën is ’n verklaring wat iemand uitspreek met die hoop dat voorspoed en geluk al die pad saam met die ander persoon sal loop. Soos ons weet, het woorde krag. Woorde het baie krag. Woorde kan bou en natuurlik kan woorde breek.

Ek het al gesien hoe ’n seuntjie inmekaar vou as sy ouers op hom skree. Die breek af. Dit maak bang. Dit kan nie bou nie. Ek het ook al gesien hoe mooi opbouende woorde kinders en volwassenes optel na hoër hoogtes.

So maklik kan ons ander ons misnoeë laat voel as hulle nie doen soos ons dink hulle moet doen nie en wanneer ons geïrriteerd is, glip dit mos sommer gou uit. Baie keer in oorgawe. En binne sekondes verwelk die persoon soos ’n klein blommetjie in die skroeiende strale van die son.

Ons maak te min moeite met mooi woorde.

Ek stap in by ’n besigheid op die dorp. Die eienaar se seun is daar om te help. Hy was in ’n privaatskool in die Kaap, sê hy. Hy is onvas op sy voete en praat met ’n ander man se tong. Ek voel skaam namens die werknemers en kliënte.

Ek staan die aand om die vuur en word beweeg om na my eie kinders te draai en hulle uit my hart dankie te sê dat hulle heel mooi uitgedraai het en die wêreld aandurf met die regte spelreëls en dat hulle nie in die gutters van die lewe rondrol nie.

Ek kan sommer sien hoe die mooi woorde die kinders laat strek na meer. Ek besef dat ek self redelik dun is op die mooi-woorde-gebruik -lysie. Ons moet meer mooi woorde oor die mense om ons spreek. Ons moet ander meer gereeld seën met mooi woorde wat voorspoed en geluk saai.

Petrus spreek mooi woorde oor die lesers van sy brief uit: 2… Mag God vir julle baie goed wees. Mag julle rustig en veilig by Hom voel, sonder dat enigiets julle pla.

Wanneer hy hierdie woorde uitspreek, spreek hy dit met ’n hart uit wat glo. Hy glo dat wat hy hier sê en wat hy hier vir God vra, waar sal word, anders sou hy nie die moeite gemaak het om dit uit te spreek nie.

Soos ek en jy die brief lees, sluit ons aan by almal wat die brief al gelees en gehoor het en staan ons aan die ontvangkant van hierdie seën. As Petrus gedink het dit werk, moet ons aanvaar dat hierdie seën ook ’n invloed in ons lewe sal hê.

Natuurlik moet ons dit ook aangee vir die mense met wie ons orals skouer skuur. Laat ons vir hulle sê: 2… Mag God vir julle baie goed wees. Mag julle rustig en veilig by Hom voel, sonder dat enigiets julle pla.

Teks
1 Petrus 1:1-2

Om oor na te dink
Glo jy in die krag van woorde?
Glo jy in die uitspreek van ’n seën oor ander?
Oor wie kan jy die seën gaan uitspreek?

Gebed
Vader, dankie vir die seën wat oor my reën. Ek glo daarin en neem dit nou vir myself. Herinner my deur U Gees om ook vir ander te seën vandag. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek