God se Woord in vandag se woorde

Seën wat reën


Tweehonderd twee en veertig keer het ons nou by Hebreërs stil gestaan. By geen ander Bybelboek het dit al gebeur nie. En ek moet bieg dat ek aan die begin gesukkel het om in die boek in te klim, maar toe ek eers ingeklim het, kon ek nie wag om elke oggend my vers vir die dag te lees nie.

Hier aan die einde van Hebreërs sien ’n mens weer die hart van die skrywer. (Onthou, ons weet mos nie wie dit is nie. Baie het gedink dit is Paulus, maar die skryfstyl kan nie heeltemal aan hom toegedig word nie.) Hy wil so graag by sy lesers uitkom en wag net vir Timoteus om op te daag, sodat hulle die pad soontoe kan vat.

Soos al die ander skrywers, spreek hy die seën oor sy lesers uit. Uit sy hart roep hy na God en vra dat Hy hulle asseblief uit hulle sokkies moet seën: 25Mag God goed wees vir julle, meer as wat julle ooit verdien.

Ek wonder lank waarom die skrywers die gewoonte het om die seën uit te spreek? Ek wonder lank waarom ek na elke preek die seën van die Here uitspreek? Ek besef dat dit meer is as net ’n wens dat God dit met die ontvanger sal laat goed gaan.

Dis is ’n teken dat daar ’n verhouding tussen God en die mens is en binne hierdie verhouding hou God Sy hand oor die mense. Hy beskerm hulle. Hy cover vir hulle. Hy is deel van hulle planne, omdat hulle juis Hom deel maak van hulle hele bestaan hier op aarde.

Dit is slegs binne ’n verhouding met God waar seën neerstort. En dis presies wat God wil doen. Hy wil Sy aandeel in die verhouding nakom en graag die seën oor al Sy kinders laat neerdaal. En die skrywer tap so ‘n bietjie van die tenk en vra God om van Sy goedheid oor al die lesers te laat reën.

Dit is presies ook wat ons met die geliefdes om ons moet doen. Ons moet uit God se seëntenk vir hulle tap. Soos wat ons op ons knieë gaan, moet ons bid vir ons geliefdes en vra dat God se seën oor hulle sal reën. Ons moet bid dat God sal goed wees vir die mense wat saam met ons werk, vir wie ons werk en wie vir ons werk. So ook vir die vreemdelinge wat oor ons pad gestrompel kom.

Dis nogal maklik, dink ek. Maar nou sien ek dat die seën uitgespreek word oor almal wat in ’n verhouding met God staan. En dis hier waar die uitspreek van die seën begin moeilik word. Daar is mense wat, soos ons, ook ’n verhouding met God het, maar wat nie om dieselfde vuur as ons sit nie.

Dalk is dit iemand wat iets aan jou gedoen het. Dalk is dit iemand wat by jou gevat het. Dalk per ongeluk jou so verskriklik seergemaak het, dat jy nie eens aan die persoon wil dink nie, wat nog te sê die seën oor hulle bid? Hier moet ons dalk ’n brug bou.

Mag ons die krag en wysheid kry en, ja, mag ons hemelse Vader, ons Skepper en die magtigste van almal, vir jou goed wees, sodat jy Sy goedheid kan strooi oor almal wie se paaie joune kruis!

Teks
Hebreërs 11:20-31

Om oor na te dink
Glo jy in die seën van God?
Bid jy dit oor ander?
Vir wie sukkel jy om hierdie gebed te bid?

Gebed
Vader, dankie dat ek die seën mag bid oor die mense wat vir my kosbaar is. Daarom vra ek dat U elkeen wie se paaie met myne kruis, uit hulle sokkies sal seën. En ja, ook oor die wie se wonde nog aan my liggaam sit. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek