Sekerheid in die onsekere wêreld
Onsekerhede keil mense op. Dit trek amps en maak ’n mens moeg. Onsekerhede laat ’n mens erg wonder oor die dag van môre en veral as ’n mens nog kinders het en wonder oor hulle toekoms, raak ’n mens bang.
Ek is seker as ons elkeen nou ’n lysie moet maak van dinge waaroor ons nie presies seker is nie, gaan dit ’n lang lysie wees. Op die meeste van ons se lysie sal die land waarin ons bly en die regeerders baie na aan bo wees, of heel bo. Die wat grond het, gaan wonder of hulle nog grond gaan hê. Wel, die kragsituasie bly heeltyd onseker. En die wat dink hulle werk is veilig, moet dalk nie so seker wees nie.
Dalk is dit die weerpatrone wat net te onseker is om te plant …
Sommige mense sal dalk nou sê dat ek swartgallig is, maar elke dag kom ek in aanraking met mense wat groot onsekerheid in die oë staar en nie herwaarts of derwaarts weet nie. In baie mense se lewens kom maak onsekerheid sy lêplek en dit maak ’n mens moeg.
Ek wens so ek het ’n stokkie om al die onsekerheid uit mense se lewens te vee, maar soos ons weet bestaan daar nie so iets nie. Tog kom gee God se Woord darem vir ons een groot stuk sekerheid: 2Dit bring groot sekerheid in hulle harte dat die ewige lewe op hulle wag. Nog lank voordat die wêreld daar was, het God al beloof dat Hy vir almal wat in Hom glo, ’n groot geskenk het: die ewige lewe!
Een boksie wat ons kan afmerk. Ons hoef nie onseker te wees oor wat met ons gaan gebeur as ons ons laaste asem uitblaas nie. Ons kry ’n groot geskenk, die ewige lewe. Die lewe hierna, wat nooit gaan eindig nie, kry ons wat in Jesus glo verniet, mahala, gratis en free. Hiervoor hoef jy nie te werk nie.
Kyk mooi. Hier staan nie vir almal wat goed gedoen het, kry die ewige lewe nie. Nog minder staan hier vir hulle wat nie gesondig het, kom die ewige lewe op ’n skinkbord aan nie. Nee, die vereiste hier is net geloof.
As jy in God glo, dan is die kaartjie na die hemel bespreek. Al kom jy sonder die kaartjie by die hemel se hekke aan, hoef jy steeds nie bekommerd te wees nie, want die Bybel leer ons dat ons wat in God glo se name in die boek van die lewe geskryf word. Petrus sal net daar omdraai, jou naam in die boek kry en jou met ’n groot glimlag inlaat.
Dit is wat Jesus vir ons moontlik gemaak het aan die kruis. Hy het die straf van sonde uit die prentjie kom haal, deurdat Hy met sy lewe vir ons elkeen se pakkie straf gesterf het. Daarom kan die van ons wat in God glo, net oorstap.
Tussen die hoop onsekerhede moet ons vashou aan hierdie groot belofte van God. Op ’n manier raak die klomp onsekerheid nogal minder, want as ons weet dat God vir die lewe hierna gesorg het, sal Hy mos ook sorg vir môre en oormôre en die dae daarna.
Kom ons verjaag die onsekerhede. Kom ons glo dat God op ’n manier vir ons sal deurkom. Kom ons hou vas aan sy beloftes en gaan leef ’n lewe vol vreugde en vrede, al is die prentjie vir ander dalk so effe donker.
Teks
Tit 1:1-4
Om oor na te dink
Hoe lyk die onsekerhede om jou?
Waaraan kan jy nog vashou?
Glo jy God se beloftes?
Gebed
Vader, ek het hierdie een so nodig gehad, want die lewe lyk nie lekker daar buite nie. Ek moet bieg dat my geloof soms wankel, my geloof selfs in U. Maar ek sê dit nou weer vir U en myself ook. Ek glo in U. Ek glo aan U beloftes. Dis al waaraan ek nog kan vashou. Amen.