Selfs vry van die wet – Romeine 7:7-25
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 7:7-25
Ons moet verstaan in watter omstandighede die mense in Rome gebly het. Hulle het grootgeraak in ’n kerk waar hulle in sekere goed geglo het soos wat hulle ouers en die se ouers geglo het. Hulle het vas geglo in die wet wat Moses van God ontvang het en as jy nie doen wat in die wet staan nie, sondig jy en dan wag die ewige vuur op jou. Klaar. Dit is soos hulle geloof al van die voorvaders af kom en basta daarmee as jy nie daarin glo nie of as jy met ’n nuwe ding wil kom. Daarom het die ou gelowiges gesukkel om die nuwe lewe wat Christus gebring het, te snap en te glo. Die nuwe geloof was te maklik. Hulle het nog vasgehou aan die wet en dit was moeilik om nou te verander na ’n geloof wat so maklik is, waar jy genade verniet kry en niks eintlik hoef te doen om die Ewige Lewe te ontvang nie. Daarom dat Paulus ’n paar maal skryf oor die plek van die wet en hoe dit inpas by die “nuwe” Evangelie.
Paulus is baie reguit met die wet storie. Hy beskryf eers die impak van die wet. Voordat die wet daar was, was daar nie eintlik sonde nie of jy het nie geweet jy doen verkeerd nie. As ek 90km/h in die dorp ry en daar is nêrens ’n bordjie wat vir my wys ek moet 60 ry nie, dan oortree ek mos nie die wet nie. As daar ’n 60km/h bordjie ingeplant word, dan eers het hulle ’n wet oor die spoed daar kom skryf. Dan eers oortree ek die wet as ek 90km/h daar ry. Ek dink Steve verstaan die ene nogal goed nadat hy teen 169km/h in die dorp gevang is.
Paulus verduidelik: 9Voordat daar ’n wet was, het ek nie mooi geweet wat reg en wat verkeerd is nie. 10Maar vandat God se wet op skrif gestel is, is daar geen verskoning meer nie. Toe het sondes skielik name gekry. Nou weet ek baie goed wat sonde is. Die wet het vir my kom wys wat ek regtig doen. Dit het vir my kom wys hoe sondig ek is. Dit het vir my kom wys dat ek verkeerd doen en wil doen. Die wet het my laat sleg voel. Op ’n manier was die wet van God ’n handbriek op ’n mens se lewe en dit het ons gekeer om volspoed in die lewe te hol.
Die heeltyd het die wet ons bewus gemaak van die sonde wat ons doen en die bagasie van daardie sonde wat ons moes saamsleep, het net swaarder geraak. 17Ek is nie meer in beheer van my eie lewe nie. Sonde speel oor my lewe baas. 18Ek weet alte goed dat ek ’n sondaar is. Nêrens in my liggaam skuil daar ’n enkele stukkie goed nie. Want ek wil bitter graag doen wat reg is. Maar ek kry dit eenvoudig nie reg nie. 19Die goeie dinge wat ek wil doen, doen ek nie. Maar die lelike dinge wat ek nie wil doen nie, doen ek.
En die wet kom staan soos ’n spietkop hier agter my en wys my die hele tyd op my oortredings. En hoe voel ek dan later? 24Wat ’n patetiese mens is ek nie! Ek leef in die doderyk. Wie kan my uit hierdie gemors verlos waarin my liggaam vasgevang is?
Dit is nie ’n goeie situasie om in te wees nie. Dink net hoe sleg moes dit nie in daardie tyd gewees het vir mense om in God te glo nie. Dit was eintlik ’n straf. Nou kom hierdie Jesus wat alles net wil kom doodkrap en alles verniet weggee. Die senior burgers het seker gesê: Ja, dis mos maar soos die jongmense van vandag is, wil alles weer verniet hê en vir niks werk nie!
Maar dankie tog vir ’n Nuwe Begin! Paulus sê verder: 25Goddank! Daar is wel Iemand wat my uit hierdie doodsbestaan kan bevry. Sy Naam is Jesus Christus! Hy is ons Here. Jesus het ons kom vrymaak van die wet. Dit beteken nie dat Hy ’n streep deur die wet kom trek het en ’n ander wet gebring het nie. Nee, die wet wat Moses by God ontvang het, staan nog. Ons kan nog steeds na die wet gaan om te sien wat reg en verkeerd is. Die wet sê nog steeds vir ons wat is sonde. Ons doen nog steeds nie alles reg nie. 25…In my binneste is ek gehoorsaam aan God. Maar wat die res van my liggaam doen, is iets heeltemal anders. Daar heers die sonde. Jesus het die impak wat die wet op my lewe het, kom verander. Deur Jesus het die gevolg wat die wet op my lewe het, verander. Die straf wat ek 100% verdien vir al die droog wat ek maak, het Jesus namens my kom dra!
Nee, Jesus het nie die wet kom goedkoop maak nie. Hy het ook nie ’n oordeel daaroor kom uitspreek en gesê dit werk nie. Hier moet jy nou die liefde wat God vir ons het, raaksien. God het gesien dat ons nie die gevolge van die wet kan hanteer nie. Toe maak Hy uit liefde nog ’n plan. Hy stuur vir Jesus om die gevolge, my bagasie, aan die kruis te gaan hang sodat ek vry kan wees. Verstaan ons werklik wat God deur Jesus vir ons kom doen het? Jy het gesondig, jy gaan nog sondig, maar dit kan jou nie meer vaskap of die handbriek optrek nie: jy’s nou vry!
Om oor na te dink
In watter wet glo jy?
Is daar bagasie wat nog afgegooi moet word?
Wat doen hierdie vryheid aan jou?