God se Woord in vandag se woorde

Ses van die bestes


Ek was nog ’n klein seuntjie toe ek eendag op my eie by die winkel om die hoek instap. Die droëwors het my mond laat water en ek kon myself nie keer om ’n stukkie af te breek en net daar op te eet nie. Maar terwyl ek so kou, kom die winkelklerk om die hoek en vang my uit. Ek skrik en begin sommer te huil. Skuldig.

Hulle neem my na die eienaar en hy sê hy gaan my polisie toe vat. Nou huil ek nog erger en smeek hom om dit nie te doen nie. Toe herken hy my as die predikant se seuntjie en sê hy sal my nie polisie toe vat nie. Hy gaan net vir my pa sê. Toe huil ek eers en vra hom om my eerder polisie toe te vat, want ek weet wat nou kom.

My pa was nie baie ingenome met sy jongste nie en het my baie langdradig ingelig van sonde en verkeerd doen en wat die straf is: Ses houe met ’n rottang. Uiteindelik moes ek buk vir die eerste. Toe die eerste hou klap, spuit die trane. Vir my pa was dit erg. Hy tel my op sy skoot en wag dat ek ophou snik. Dan vertel hy vir my hoe lief hy my het en dat hy my nie wil pak gee nie. Hy vertel weer van sonde, loon en straf. Dan vee hy die trane af en wanneer ek rustig is, buk ek vir die tweede en word ek weer op die skoot getel totdat die trane en snikke opgehou het, net om weer wanneer ek rustig is…

Die proses herhaal hom 6 keer.

Ek onthou dit nog tot vandag toe. Liefde, sonde, straf. Ek weet dit was vir my pa swaar, maar hy moes vir my leer dat verkeerde dade ’n groot effek het. Wel, ’n groot effek op die velle van my bas.

Ek het ook geleer dat daar nie eintlik iets was wat ek kon doen om my verkeerde daad reg te maak nie. Ek kon niks doen om my pa se predikant naam wat ek met ’n plank geslaan het, reg te maak nie. Ek kon nie die klein ou stukkie droëwors terugsit op die rak nie, want die was klaar deur my derms. Ek moes die pak vat. Dit is my verdiende loon.

So werk dit ook met die verkeerde dinge wat ons teen God doen. Daar is ’n straf. As jy verkeerde dinge doen, moet jy pak vat daarvoor. Maar gelukkig weet ons dat God klaar ’n plan gemaak het met ons straf. Hy het mos vir Jesus in ons plek die pak laat vat. Ja, meer as net ses houe met ’n rottang. Die loon van die sonde wat ons teen God doen, is die dood. Eintlik moes ons in die hel gaan brand het vir alles wat ons aanvang. In ons plek het Jesus gesterf en het Hy deur die dal van doodse skaduwee gegaan.

Die feit dat ons nou gered is, is nie ons skuld nie. Inteendeel. 9Dit is nie iets wat ons self reggekry het of kon doen nie: God het dit vir ons verniet gegee. Dit is nie iets waaroor enigeen van julle kan loop en spog nie, want dit is nie asof julle self daarvoor gewerk of dit verdien het nie.

Ons toekoms was hopeloos. Sonde het ’n straf. Droëwors steel het ’n straf: Ses van die bestes. Sonde se straf is die dood. Gelukkig gryp God in. Sy liefde is net te groot vir ons en daarom laat Hy sy seun in ons plek sterf. Hiervoor het ons nie gewerk nie. Dit het ons ook glad nie verdien nie. Dis net God wat liefde, sonde en straf verander in liefde, sonde en vergifnis.

Sommer so op ’n bord ontvang ons vergifnis. Dit is deur God gedoen. Ek weet ek het niks om op te roem nie, want ek het niks daarmee te doen nie. Tog kan ek uit dankbaarheid dat Jesus my pak kom vat het, vergifnis aan ander om my gaan uitleef. Dalk moet ek vir ander die pak dra, ander se las ligter maak, want hulle verdien dit net so min soos ek.

Teks

Efesiërs 2:1-10

Om oor na te dink

Verstaan jy die loon van jou verkeerde dade?

Verstaan jy dat dit Jesus is wat dit in jou plek kom dra het?

Ervaar ander om jou dit?

Gebed

Here, wat het U nie alles vir my kom doen nie. In my plek kom sterf vir my sondes. Ek het geen aandeel hierin nie. Net sommer so op ’n bord vir my kom aandra. Dankie, Vader, vir U groot genade en baie liefde. Mag ek vandag my dankbaarheid uitleef teenoor almal wat dit net so min soos ek verdien. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek