God se Woord in vandag se woorde

S*x, drugs & rock and roll


Ons stuur die boodskap weer uit omdat sekere filters die boodskap uitgegooi het agv die titel.  
Dames, gebruik sommer die geleentheid om aan die manne  te stuur sodat  hulle dit met hulle vriende kan deel.

Efesiërs  5:1-5

S*x, drugs & rock and roll is dalk ’n goeie opskrif vir die volgende paar verse wat Paulus hier neerpen. Paulus draai nie doekies om nie en noem ’n graaf ’n graaf. Hier help dit nie om saggies en met verskuilde agendas mense in die regte rigting te lei nie. Nee, kom ons pak die hele sak patats een vir een uit en noem die ding op sy naam.

Die grootste en maklikste een waar mense se clutch gly, is s*ks. Dit is seker omdat dit die lekkerste is. Om een of ander rede is die brieke hier nie so goed nie en as ’n mens weer sien, het jy gegly en word jy die volgende oggend met ’n moewiese skuldgevoel wakker. Ons word voor die bors gegryp: 3Onthou, julle behoort aan God. Daarom mag julle nie eens daaraan dink om s*ksueel verkeerde dinge van watter aard ook al te doen of om van gierigheid oor te loop nie.

Jy behoort mos aan God, nè? Jy is mos sy eiendom. Jy het jou hart vir Hom gegee en noem jouself ’n kind van God. Ok? Wel, dan is daar sommige plekke waar jy en jou oë en die res van jou lyf nie eens moet oorweeg om te gaan nie. Moenie eers daaraan dink om daardie program op die TV te kyk nie.

Ek sit een Donderdagaand voor die TV. Ek wag vir my vrou en kinders om van Michael W Smith se show in die Kaap te kom. My fliek is klaar en ek flip deur die kanale om te sien of daar nie ietsie is om te kyk nie. My mond hang oop om te sien hoe die mense mors. In ons tyd het ons gepraat van blou movies, maar dit was nie algemeen beskikbaar nie. Vandag is dit oop en bloot op ons TV’s. Dit kos selfdissipline om nie in die web ingetrek te word nie.

Terwyl ek Bybelstudie doen, doen ek ’n toets en ek copy die eerste 6 woorde van die stuk en paste dit in Google. Ek klik op images. Daar is genoeg pornografie om jou gedagtes op ver en verkeerde paaie te neem. Ek maak vinnig die keuse en kies die x blokkie om die blad toe te maak.

Pornografie is ’n paar knoppies se druk op selfone, tablette, laptops en rekenaars beskikbaar. Vir oud en jonk, vir man en vrou. Enige tyd. Enige plek. En die genot wat die gebruikers hieruit kry laat hulle keer op keer terugkeer. Hulle word dieper en dieper in ’n swart kolk ingetrek waaruit hulle beswaarlik kan kom. Die netto effek is dat hulle meer en meer mors met God se geskenk aan die mens.

God het die s*ksuele daad vir die mens gegee om te geniet en dit is daar om mense binne die huwelik een te laat word. Dit is daar om die verhouding sterker te maak. Pornografie trek ’n streep hierdeur. Pornografie sit prentjies in jou kop wat veroorsaak dat s*ks afgewater word. S*ks bind nie meer saam nie, maar raak juis nou die verskoning hoekom dinge nie werk nie.

Ek wonder altyd hoe ons kan bid dat God ons huwelike moet red, maar ons laat toe dat pornografie en verkeerde s*ksuele praktyke ons uitlok. Natuurlik gaan daar prentjies in jou kop agterbly. Natuurlik gaan dit ’n invloed hê op hoe jy na jou eggenoot kyk. Natuurlik gaan dit ’n invloed op jou verwagtings van jou maat hê en dit kan jou maat ongemaklik maak.

Een van die maklikste plekke om die mens (mans en vrouens!) te vang, is op die gebied van die s*ksuele. Mense word verlei om dit op verkeerde maniere te geniet sodat hulle dit eintlik nie as ’n sonde wil sien nie.

God het die s*ksuele vir die mens gegee om binne die huwelik te geniet. Maak ’n punt daarvan om dit reg te gebruik, want as ons dit binne die huwelik reg gebruik, sal dit ons verhoudings opbou en nie afbreek nie.

Om oor na te dink

Hoe dink jy oor pornografie

Is pornografie deel van jou lewe?

Bou dit of breek dit?

Gebed

Vader, U het vir ons so mooi gemaak. U het ons gemaak om na mekaar te hunker. U het vir ons s*ks gegee om te geniet. Help ons om dit nie op te mors nie. Help ons om nie toe te laat dat vuil prentjies in ons koppe vasslaan nie. Help ons om s*ks binne die huwelik te gebruik om nader aan mekaar te kom en saam te bind. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek