Sien, doen, dra = liefhê
Die wêreld sal totaal en al ’n ander plek wees as elke kind van God net sy stukkie doen. Maar helaas, die wêreld lyk soos dit lyk, omdat die meeste kinders van God nie lekker weet wat om te doen of wat hulle gawe is nie. Dalk gaan soek hulle te diep en te ver. Dalk dink hulle hulle moet alles oppak en in diep, donker Afrika voltyds Sondagskool onder ’n boom gaan gee. Dit is eenvoudig te erg. Nou doen niemand iets nie.
Tog hoef ons nie so ver te gaan soek nie. Nee, ons wat kinders van God is, het ’n opdrag en dit is eintlik baie eenvoudig: 2Sien raak wanneer ander gelowiges swaarkry en help hulle. Maak net jou oë oop. Haal die bril van jou oë af wat keer dat jy mense in nood raaksien. Ek daag jou uit: Gaan kyk bietjie rondom jou of jy êrens ’n stukkie nood raaksien. Ek belowe jou jy hoef nie ver te ry voordat groot nood voor jou gaan opspring nie. Dit is eintlik skokkend om te sien hoe ons onsself geprogrammeer het om verby nood te kyk. Daarom – besef dat jy ’n bril op het wat jou verblind vir die nood in die wêreld. Haal dit af. Maak jou oë oop en kyk. Jy sal sien – nood is orals om jou.
En as jy sien, doen iets. Help die mense wat in nood is. Maar meer nog: 2… Tel hulle probleme op julle skouers en dra dit vir hulle. Raak betrokke. Lig die swaar las van hulle skouers af en dra dit so vir ’n tydjie. Ek vermoed Paulus bedoel hier dat ons ons hande soms ook moet vuilmaak. Ek vermoed verder dat hy nie hier bedoel dat ons ’n paar rand in die ou se hand moet stop om so ons skuldgevoelens af te koop nie. Nee, ons moet planne maak om ander se nood te verlig en dit help dra.
Annie vertel dat hulle in ’n dorp gesien het dat daar mense is wat honger gaan slaap. Hulle het koppe bymekaargesit en by ’n goeie plan uitgekom: 1 ton vullis vir 1 ton kos. Hulle het na die besighede gegaan en skenkings vir kos gekry. Hulle het iemand gekry wat die vullis herwin het. Op die ou end het almal gehelp, selfs die mense in nood om die nood te verlig. Hier het mense saamgewerk om die honger probleem op hulle skouers te tel en ’n verskil te maak.
2… So doen julle presies wat Christus van julle verwag. Dit is immers sy wet dat julle mekaar moet liefhê.
Die hele tien gebooie word in een wet saamgevat: Wees lief vir mekaar. Hoe kan ek ander liefhê as ek verby hulle nood kyk? Wanneer ek ander se nood raaksien moet ek iets daaraan doen. Ek moet dit op my skouers neem, want dan het ek waarlik lief.
Orals waar ons gaan, is daar geleenthede om lief te hê. Orals is daar plekkies waar liefde deur dade gewys kan word. Dit is ons elkeen se opdrag. Wanneer ons verstaan wat Jesus vir ons aan die kruis gedoen het, kan ons nie anders as om van die groot stuk genade wat ons ontvang het te gaan uitdeel aan die mense om ons wat dit net so min verdien soos ons nie. Ons dankbaarheid kan eintlik gemeet word aan die liefde wat ons uitleef. Dit kan gemeet word aan al die nood wat ons raaksien. Dit kan gemeet word aan al die nood wat ons namens ander dra. Mag dit in elkeen van ons sigbaar wees. Dan sal die wêreld vir seker ’n beter plek wees!
Teks
Om oor na te dink
Sien jy die nood om jou raak?
Hoe kan jy iets daaraan doen?
Waar kan jy betrokke raak?
Gebed
Vader, U gee vir ons so baie. Ek weet dat ek uit dankbaarheid ’n verskil in ander se lewens moet maak, maar ek besef dat ek so maklik verby ander se nood kyk. Help my, Here, om dit raak te sien. Wys my waar U wil hê ek moet ’n verskil maak en help my om die nood van hulle skouers te lig en dit vir hulle te dra. Amen