Sing jy?
Toe ons van die plaas dorp toe getrek het, was ek nie gewoond aan mens wat naby my woon nie. Ek het nie eintlik besef dat klank so ver trek nie. Ek was nooit bang om my groot hifi se volumeknoppie goed in die rooi te druk nie. My vrou het later die straat afgestap om te luister hoe ver die klank nou regtig trek. Uitasem het sy teruggekom en gevra: “Weet jy hoe ver trek klank in die dorp?” Ek het nie eintlik geweet nie en net gereageer met: “Vasvrae, nè!” Dit was nie die regte antwoord nie…
Ek hou van musiek, want dit beweeg jou. Musiek kan jou opbeur. Musiek kan jou rustig maak na ’n gejagery. Neem nou maar die voorsang in die kerk. Mense kom dikwels met ’n geskree en geskel en ’n hart wat vinnig klop by die kerk se deure ingewaai. Die musiekleier begin ook dikwels met vinnige musiek om by die mense se galop in te val, maar bring die tempo met ’n paar liedere af tot by ’n aanbiddingslied. Ewe skielik is almal gereed om die Woord te ontvang. Alles gedoen deur ’n paar liedere.
Ons moet meer sing. Ons moet meer Christelike liedere luister, want dit bring ’n mens in tune met God. 19Sing en leer mekaar met liedere wat uit die psalms kom of ander mooi geestelike liedere. Sing met julle hele hart vir die Here. Ek werk met die internetradio kliphard aan. Kontemporêre Christelike musiek speel die heeltyd oor die luidsprekers langs my skerms. Dit maak my anders en stem my die heeltyd in die regte rigting.
Tog moet ons verder gaan as om net gestem te word deur liedere vir en tot God se eer te sing. Ons lewens moet ook na God rig. Ek sê mos altyd dat as ek verstaan wat God vir my gedoen het, kan ek nie anders as om uit dankbaarheid goed te doen nie. Dis ’n manier waarop ons vir God kan dankie kan sê vir alles wat Hy vir ons gedoen het. Daarom moet ons gehoor gee aan die opdrag: 20Moenie vergeet om altyd vir God, die Vader, baie dankie te sê vir alles nie. Doen dit omdat julle aan Jesus Christus behoort en Hy julle in staat gestel het om dit te doen.
En dis baie meer as net woorde. Opregte dankbaarheid loop oor in dade. Dade van liefde wat oorborrel van dankbaarheid. Dade van liefde aan mense wat dit net so min verdien soos jy. Mense wat net soos jy swaarkry het ook ’n dankie-daad nodig. Corrie verstaan dit:
Ek en my dogter het ook al ’n groot hap van swaarkry gehad. Maar die HERE JESUS laat ons toe om om ons te kyk en te sien dat daar ander is wat ook swaarkry en dat ons vir hulle moet bid en help waar ons kan. Dis hoekom ons hier op aarde is – om ’n verlengstuk van JESUS se hande en voete te wees. Op ’n Donderdagaand doen ons uitreike op die voorstrand. Vertel van die Weg, die Waarheid en die Lewe. Ons bid vir die mense en gee kos en klere. Wel, gisteraand sien ons ’n man met geen hande nie. Net twee klein duimpies. Dit sit hom nie af nie. Ek wens net ek kon jou die mooi tekeninge wys wat hy gemaak het. Ek het albei my hande en kan nie eers ’n stokmannetjie teken nie. My dogter het vir hom gebid en ’n noot in sy klein duimpie gesit. Hy was so bly dat hy dadelik vir JESUS dankie gesê het.
So ek het regtig met ’n baie seer hart vir JESUS baie dankie gesê vir wat ek het. En die man het nie eers ’n plekkie om te bly nie. Hy slaap maar op die strand…
So hoe doen ons nou?
Om oor na te dink
Hoeveel sing jy?
Ervaar ander jou dankbaarheid?
Waar kan jy ’n verskil maak?
Gebed
Here, U doen so baie. U doen alles. Uit dankbaarheid wil ek sing. Uit dankbaarheid wil ek iets doen. Wys my hoe. Wys my waar. Gee my die wil om te sing en te doen. Amen