Sit jou hand in die Groot Man se hand
As jy die liedjie, “Put your hand in the Hand”, ken, gee jy jou ouderdom weg. Die liedjie is deur Gene MacLellan in 1971 geskryf. Dit is eerste deur die bekende sangeres Anne Murray gesing, maar eintlik deur die Kanadese gospelgroep, Ocean, bekendgemaak. Dit het die tweede plek op die Billboard Hot 100 bereik.
Baie ander het later ook die liedjie opgeneem, onder andere ook Elvis Presley.
Die liedjie begin met die koor:
Put your hand in the hand of the man who stilled the water
Put your hand in the hand of the man who calmed the sea
Take a look at yourself and you can look at others differently
By puttin’ your hand in the hand of the man from Galilee
In die laat sestiger- en begin sewentigerjare het mense erg na hul identiteit gesoek. Everything goes, was die norm van die dag. Mense was verdwaal en op die verkeerde pad. Almal was soekend en met hierdie liedjie, het Gene die mense kom raad gee.
Sit jou hand in die hand van die Groot Man. Sit jou hand in die hand van die Man wat met die see praat en dan raak dit rustig. Sit jou hand in die hand van die Man wat van Galilea kom en al die wonderwerke gedoen het.
As jy jou hand in God se hand sit, sien jy jouself anders. Jy sien jy het waarde. Jy sien dat jy ’n doel het. Ewe skielik weet jy wat jou identiteit is. Jy sien die regte pad raak. Jy sien ook jou sonde raak.
En dis nie so ’n lekker prentjie nie, maar as ’n mens dit raaksien, kan ’n mens iets daaraan probeer doen. As ’n mens jou hand in God se hand sit, raak ’n mens skaam, raak ’n mens ongemaklik en dan wil ’n mens daarvan ontslae raak.
7… Julle moet God se hand al hoe stywer vashou; dan sal Hy júlle hand ook al hoe stywer vashou. As julle verkeerde dinge doen, hou op daarmee. Hou op om aan die een kant God te wil dien en aan die ander kant nog met julle sondes aan te gaan.
Onderwerp jou aan God. Maak God die volle eienaar van jou lewe en jaag die ander wat dink hulle het beheer oor jou lewe, weg. Maak huis skoon. Onthou, wanneer jy jou hand in God se hand sit, kry jy ’n nuwe bril.
Dan sien ’n mens die verkeerde dinge raak en die opdrag is om op te hou daarmee. Ruk dit met wortel en tak uit. Sit wagte neer om te keer dat jy dit weer doen. Sit jou hand in God se hand.
Hoe? Gene help ons verder in die liedjie deur te verwys na die Holy Book en sy ma wat hom geleer het om te bid toe hy sewe was. En dit is presies hoe ons ons hand al hoe dieper in God se hand kan druk. Ons moet Sy Woord lees en heeltyd met Hom praat. Dan sal Hy ons hand al hoe stywer vashou!
Teks
Jakobus 4:7-12
Om oor na te dink
Is jou hand in God se hand?
Is jou hand styf in God se hand?
Hoe moet jy maak?
Gebed
Vader, ek weet ek moet my hand al hoe dieper in U hand druk. Ek weet ek moet meer in U Woord wees en meer met U praat. Ek wil dit van nou af elke dag doen. O ja, en ophou met die sonde! In Jesus se Naam. Amen.