God se Woord in vandag se woorde

Skildery-dade om God trots te maak


Wanneer ouers baie moeite in hulle kinders insit en na baie gestoei, raak hulle jongmense wat voor stap en stoot die ouers hulle bors uit. Hulle is dankbaar, maar ook so trots. Die jongmense leef ’n lewe wat vir ander ’n voorbeeld is.

Net so moet ons ook ’n lewe leef wat vir God trots maak. Ek vermoed dis hoe God voel oor Christo se manier van lewe hier op aarde:

Jare gelede gee iemand my ’n derde van ‘n maatskappytjie gratis, solank ek dit namens hulle bestuur. Dit was so 150 km van my huis af en ek kon net naweke huis toe gaan.

Die eerste oggend, vroeg in Meimaand, kom ek daar aan. Al die werkers staan voor die deur vir my en wag. Een van hulle het net ‘n hemp aan en dis nogal koud. Dadelik kry ek die gevoel ek moet my windbrekerbaadjie vir hom gee.

Dankbaar is nie die woord nie.

Soos dit hulle gewoonte was, begin ons die dag met ‘n gebed. Elke oggend daarna bid ek vir die klompie, totdat hulle een oggend vir my sê eintlik maak ons beurte en hulle wil ook bid. So gesê so gedoen.

Net ou Isaac bid nie. Ek vermoed hy weet, maar glo nie.

Ek begin toe elke oggend, met die leiding van die Heilige Gees, ‘n versie lees en dan ‘n paar woorde daaroor sê.

Min het ek geweet hoe groot invloed daardie klein gebaar op Isaac sou hê.

So ‘n maand of wat later vra hy my of ek nie ‘n spaar Bybel by die huis het nie. Hy en sy vrou wil saans die versie lees en daaroor praat.

Kakebeen op die grond en met trane in my oë, beloof ek ‘n Bybel.

Ek koop die Sondag ‘n Pedi Bybel by die kerk en gee Maandag dit vir Isaac. Soms het klein goedjies groot resultate.

Ek is nou al 7 jaar daar weg, op pensioen, maar glo Isaac en sy vrou vind steeds genot in hul verhouding met God.

Ek vermoed God is baie trots op Christo. Hy het gedoen wat hy verstaan het God van hom verwag het. Hy was beskikbaar en gehoorsaam en het gedoen. Die gevolg was ’n permanente verskil in baie mense se lewens. Vir seker sal God trots wees op wat Christo, met ’n hoop genade, reggekry het.

Christo het presies verstaan en gedoen wat die opdrag vra: 14… Leef so dat God trots kan wees op julle, want as iemand nie so leef nie, sal hy sowaar nie by die Here uitkom nie.

En so moet ons elkeen maak. Ons dade moet God trots maak. God moet hou van die prentjie wat ons besig is om hier op aarde met ons dade te skilder. Wat kan jy nou gaan doen?

Teks
Hebreërs 12:12-14

Om oor na te dink
Hoe lyk jou lewe?
Is daar momente waarop God trots kan wees?
Waar moet jy ’n paar veranderings aanbring?

Gebed
Vader, soms voel ek skuldig oor my dade. Ek weet dat ek meer moet doen. Ek weet dat ek ’n paar veranderings in my lewe moet aanbring om U werklik trots te maak. Ek gaan weer probeer. Ek glo U Gees sal my hiermee help. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek