Skoon en rein
Paulus gebruik ’n mooi beeld om die verhouding tussen hom die gemeente van Korinte uit te beeld. Hy sien sy rol as die een wat twee verliefdes aan mekaar voorgestel het. 2… Ja, ek het as’t ware die verlowing tussen julle en Christus gereël. Daarom is dit ook my plig om julle eendag soos ’n bruid aan Christus af te gee. En ek wil julle soos ’n jongmeisie wat nog nie seksuele gemeenskap met ’n man gehad het nie, na haar bruidegom toe vat. Skoon en rein.
As dit nie vir Paulus was wat uit sy comfort zone geklim het nie, was die kans daar dat die mense van Korinte nooit eens vir God sou ontmoet het nie. Hoe ’n groot slag sou dit nie vir die Koninkryk van God gewees het nie.
Maar gelukkig is Paulus nie bang nie. Gelukkig is hy gehoorsaam aan die opdrag wat God hom opgelê het en hy werk woes om die evangelie op die straat te kry. Paulus doen meer as net hit and run. Soos ’n beskermde pa na sy pragtige dogter omsien, so droom hy oor sy dogter en haar aanstaande bruidegom.
Ek ken van so beskermend wees. Ek het ook twee dogters en ’n seun wat ek met alles in my wil beskerm. Ek wil hulle teen alles wat lelik is beskerm. Ek wil hulle teen slegte ouens en meisies beskerm. Ek wil hulle teen hulle eie verkeerde keuses beskerm, maar ek kan nie. Maar wat ek wel doen, is om hulle toe te rus sodat hulle in staat is om die regte keuses te maak om rein te bly.
Paulus het die dogter, die gemeente van Korinte, aan die bruidegom, Jesus voorgestel. Hoe opgewonde is hy as vader nie oor die verhouding nie. Hy het die perfekte skoonseun vir sy dogter gekry. Hy weet dit. Hy glo dit met sy hele hart. En daarom draai hy nou na die dogter toe en gee ’n vinnige, ernstige preek. Hou jouself skoon en rein. Moenie dat jou dade jou onrein maak nie. Sorg dat jy nie deur ander manne wat om verkeerde redes daar by jou kom aanlê, onrein gemaak word nie. Moenie toelaat dat hulle stories oor die blink lewe daar buite, jou verblind nie. Nee, hou jou oog op die troue, daar waar jy in die paadjie tussen die banke sal afstap om jou bruidegom te gaan ontmoet en sorg dat jy skoon en rein is.
Dit geld natuurlik nie net vir die mense van die gemeente van Korinte nie, maar ook vir ons. Ons moet sorg dat ons lewe skoon en rein is. Ons weet wat reg is. Ons weet wat vir God aanneemlik is. Ons weet ook presies waarvan God nie hou nie. As ons eers moet vra of dit reg is, moet ons sommer by voorbaat los, want grys areas is nie wit nie. Doen die dinge wat ons weet reg is en los liewer die onsekerhede. Konsentreer om rein te bly, sodat wanneer ons eendag die bruidegom gaan ontmoet, ons nie ’n paar onaangename verrassings in die pakkie hou nie.
Teks:
Om oor na te dink
Glo jy dat jy Jesus se bruid is?
Is jy opgewonde om Jesus te ontmoet?
Waarvan moet jy ontslae raak om rein te wees?
Gebed
Here, ek wil ’n rein bruid wees vir U. Help my om elke oomblik van die dag en nag die regte keuses te maak. Help my om nie myself te mislei deur grys areas as wit aan te sien nie. Amen