Skouer stamp teen die hek
Ons woon nou reeds vir meer as 10 jaar baie lekker in ons huis. Die huis het ’n plat dak met versteekte geute (die geute word agter die fascias weggesteek om die huis mooier te laat lyk). Dis ’n nare storie, dié geute wat so weggesteek sit. ’n Vriend van my sê die geute is so goed weggesteek dat selfs die water hulle nie kan kry nie! Nou lek dit orals in die huis, maar dis ’n storie vir ’n ander dag.
By die agterdeur is daar ’n staalhek in die ringmuur. En skielik, na heelwat jare se gebruik, sukkel die hek om oop te maak. Hy’s erg stram en later moet ’n mens die hek met ’n skouer storm om dit oop te kry. Ek besef my skouer gaan dit nie hou nie.
By nadere ondersoek sien ek dat die muur waaraan die hek swaai, wegkraak van die muur. Ek probeer alles, selfs om met my kar se domkrag die muur terug te kry op sy plek sodat ek dit met klampe aan die muur kan vastrek, maar ek kry dit nie beweeg nie. Al wat ek regkry, is om die domkrag te buig.
’n Tydjie daarna noop ’n hoë waterrekening my om net langs die hek en muur ’n sloot te grawe agter ’n nat kol aan. Ek kry ongelukkig nie ’n pyp wat lek nie, maar met ’n groot skok sien ek die fondasie waarop die muur gebou is waaraan die hek swaai. Die fondasie is net so breed soos die muur en seker nie tien sentimeter dik nie. Geen wonder dat die hek se gewig die moewiese muur na soveel jaar uit die huis se muur geskeur het nie. Die fondasie was te lig in die broek en moes uiteindelik meegee onder die swaar druk.
Dit vereis nou dat alles afgebreek moet word, die ou fondasie moet weggooi word en ’n nuwe fondasie moet gegooi word. Alles moet dan van vooraf weer gebou, gepleister, geverf en gehang word. Ai, kon hulle dit nie met die eerste rondte reg gedoen het nie?
Vir eers moet die skouer maar hou. Dié projekkie is nog te vêr onder op die doen-lysie.
Ek wonder of Paulus ’n bouer was, want hy verstaan baie van goeie fondasies en gee die volgende raad: 6… Soos ’n huis wat op ’n sterk fondament gebou word, moet julle julle lewe op Jesus bou. Staan onwrikbaar vas in dit wat julle glo, soos julle geleer is. Doen dit terwyl julle gedurig vir God dankie sê en Hom eer.
Daar is net een fondasie wat werk vir ons lewe en dit is Jesus. Wanneer dit swaar gaan, wanneer die druk eenvoudig net te veel is om op ons eie te dra, sal Jesus nie meegee nie. Hy sal ons regop hou. Hy sal ons staande hou. Hy is sterk genoeg om enige swaar stryd te deurstaan.
Net Jesus! Niks of niemand anders nie!
Sonder dat baie dit besef, bou hulle hulle lewe op ander fondasies. Baie sal sê ek gaan darem gereeld kerk toe of ek is darem nie ’n slegte mens nie. Ek gee gereeld vir ander se nood of ek bid en so aan. Dié fondasies is nie goed genoeg nie. Dit kan dalk ’n paar jaar die ding doen, maar eendag gaan dié fondasies eenvoudig te lig wees. Ewe skielik gaan die hekkie waardeur jy die wêreld inloop, vassit, jou skouer dalk blou gestamp. Dan sal jy alles moet afbreek om plek te maak vir Jesus en Hom die fondasie van jou lewe maak.
Hierdie is goeie raad. Neem dit met jou hele wese aan. Dan kan die storms maar kom. Dan kan die kragte maar trek. Jy en jou lewenshuisie sal vasstaan, want die fondasie is Jesus.
Teks
Om oor na te dink
Hoe stewig is jou fondasie?
Wil jou mure omval?
Hoe maak jy Jesus deel van jou lewe se fondasie?
Gebed
Jesus, ek begin nou so effe verstaan hoekom daar tye in my lewe is wanneer dit voel asof alles inmekaar val. Ek besef dat ek vir U deel moet maak van my alles sodat ek kan vasstaan. Ja, U moet my fondasie wees. Amen.