God se Woord in vandag se woorde

Slaan bal mis


PP Fourie skryf in sy boek, ’n Hart is so groot soos ’n vuis, hoe sy pa vir hom en sy ma afgeknou het. Hy vertel hoe hulle Oukersaand deur die strate gestap het en gekyk het na gelukkige families wat om ’n kostafel sit en kuier. Hulle het op die vooraand van die herdenking van die Vredevors na vrede gesmag.

My hart gee so ’n ruk as ek myself in die jong seun en moeder se skoene indink. Ek wonder of mense wat dit aan hul geliefdes doen, weet hulle doen verkeerd en dit nie wil doen nie. Ek wonder hoe hulle selfbeeld lyk.

Ek vermoed die oom het die bal mis geslaan as dit by kommunikasie kom.

26… Iemand wat meen hy is ’n godsdienstige mens, maar wat lelik praat, baklei en skinder soos hy wil, slaan die bal baie ver mis. Hy is allesbehalwe ’n godsdienstige mens. Al die ander dinge wat hy doen om godsdienstig te probeer wees, is verniet.

Die meeste van ons is darem seker nie so erg soos die oom nie. Ons families drentel nie Oukersaand in die strate van ons dorp en kwyl vir vrede om ’n vredevolle familietafel nie.

Maar so nou en dan sit en slaap die wag voor ons mond en nee, ons het dit nie beplan nie. Sommerso met die opstoot van die emosies, byt ons met ons woorde en die ander bloei.

Dit gebeur in die beste van gesinne.

Maar dit is nie reg nie. Wanneer ons lelik praat en baklei en skinder word daar eintlik ’n vraagteken oor ons Christenskap gesit. Daarom moet ons hierdie manier van praat uitroei.

Div skryf eendag vir my:

Ons is onvolmaakte driehoeke met skerp punte en maak mekaar seer en selfs dood, al is dit net met die tong.  Ons spreek baie kere dood oor ander en onsself uit. Alles met ons eie tong …

Ja, ons moet ons tong onder beheer kry. Ons moet seker maak dat die wag voor ons mond nie aan die slaap gevang word nie. Ons moet seker maak dat ons nie verwoesting saai nie.

Div gaan dan voort:

Elke nou en dan kry ons ‘n stamp of twee en dan breek daardie skerp punte af. Uiteindelik is daardie punte almal rond, sodat ons volmaak kan word soos Hy, ons God.

Kom ons probeer elke keer die bal raak slaan en toelaat dat ons skerp punte afgebreek word, sodat ons nie moord pleeg nie. Laat ons die ruimte skep waar mense altyd veilig is en nie hoef te koes vir wat moontlik by my mond wil uitglip nie.

Teks
Jakobus 1:19-27

Om oor na te dink
Glip daar soms iets verkeerd uit jou mond?
Moet mense om jou soms koes as jy die bal mis slaan?
Hoe kan jy jou wag wakker hou?

Gebed
Vader, ek wil regtig as ’n kind van U bekendstaan en ek wil ook elke liewe keer so optree en praat. Help my om my wag voor my mond wakker te hou en ’n ruimte te skep waar almal veilig voel. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek