Slaan jy God se Naam met ‘n plank? – Romeine 14:1-12
Kliek hier om die teks te lees: Romeine 14:1-12
’n Mens moet die heeltyd besef wie die geadresseerdes is van Paulus se brief: dit is die mense van Rome so amper 2000 jaar gelede. Hulle het ander probleme ervaar as wat ons vandag ervaar. Hulle was in ’n oorgangstyd, waar die nuwe wet ander lig op die wet van Moses kom gooi het. Dit het nie Moses se wet nietig verklaar nie, maar net ander gewig daarin kom plaas.
So byvoorbeeld het jy jouself nie meer op pad na die hel geëet as jy onrein diere eet nie. Daar is ander dinge wat meer belangrik is. Tog is mens mos maar mens en almal kan nie so maklik op die nuwe wa spring nie. Die probleem was dat die wat al op die wa is, neergesien het op die ander wat nog nie op was nie en hulle dan gespot.
Hierteen waarsku Paulus. Ons moenie ander te vinnig oordeel nie. 4Wie dink jy is jy dat jy so maklik ’n oordeel uitspreek oor die manier waarop ander mense hulle geloof uitleef? God self sal mos besluit of hulle reg doen of nie. Dit is nie jou werk nie.
Of die ouens nou nie ’n steak wil eet of dalk nie groen koeldrank drink nie, dit is nie vir my om te lag of hulle attent te maak op wat hulle alles uitmis nie. Gee ruimte vir ’n ander man se manier van doen. Ons is (gelukkig) nie almal dieselfde nie. Moenie dink dat almal alles moet doen soos wat jy dit doen nie. Ons raak so gou betrokke in gesprekke oor wie doen wat en op watter manier, dat ons die punt mis.
Dit is wat die duiwel doen en ons kom dit nie eens agter nie. Hy bring ons van stryk met dingetjies wat glad nie die issue is nie. Hy laat ons fokus en praat oor ander se manier van doen dat ons heeltemal vergeet waaroor dit regtig gaan.
Dit maak my hartseer om te sien hoe mense baklei oor dit waarin hulle glo en hope energie spandeer om die ander te oortuig dat hulle nou eintlik reg is. Wat is die belangrikste? Om ander te oortuig dat jou manier van glo reg is of eerder die energie te gebruik om mense wat van die pad is eerder terug op die brug te kry?
Soms is ons eenvoudig net nie lekker nie.
Wat jy ook al doen, doen dit tot eer van die Here. Moenie dat satan jou oë van die hoofdoel afhaal deur tyd te mors op onbenullige praatjies en besprekings van ander se (ja, soms snaakse) manier van dinge doen nie. Dit is in ieder geval God se besluit of dit aanneemlik is vir Hom of nie. Gooi jy al jou energie in jou doel en dit is: 8Daarom moet ons voluit vir Hom leef en doodgaan. Letterlik alles wat ons doen, moet tot eer van die Here gedoen word, want ons behoort aan Hom.
Dit is waarmee ons ons heeldag moet besig hou. Jy moet die heeltyd seker maak: Is ek besig om God se Naam te eer met wat ek nou doen of slaan ek dit met ’n plank?
Ek en ’n vriend van my praat deur middel van Skype. Hy sit in Kanada en ons bespreek die onderwerp van hoe mens weet wat God se doel vir my op aarde is. Ons kom toe presies by dié punt uit. God se roeping vir my en vir jou is om deur ons dade hier op aarde Sy Naam te verheerlik en sy Koninkryk groter te maak. Dit is jou doel. En myne. Dit is die rede hoekom ons op aarde is. Alles wat jy aanvang moet God se Naam groter maak. Al jou dade moet ander mense na God wys, sodat daardie mense op die ou end vir God in jou dade raaksien en nie vir jou met jou eie behoeftes nie.
Kom ons probeer te midde van die stryd om God se Naam te eer en sy Koninkryk uit te bou. Steen vir steen. Kom ons vertrou en laat die Heilige Gees toe om ons te hulp te snel. Dalk, net dalk, staan ons verwonderd oor wat God deur ons doen.
Om oor na te dink
Eer jy God se Naam met jou dade of het jy ’n plank in die hand?
Waar moet jy vandag hard konsentreer om goed so te doen dat God in die middel staan en nie jy nie?