Slegs vir die waarheid
Wanneer jy ’n hoë boom is, moet jy weet jy gaan wind vat. Baie wind. As jy jouself vir ’n toffie uitsit, gaan iemand êrens in die pad af aan jou kou. Dis wat met Paulus gebeur het. Daar was ’n klomp vals profete in Korinte wat allerhande bogstories oor Paulus vertel het en die ergste van alles is dat sommige van die gemeentelede van Korinte hulle geglo het. Die gevolg was dat daar nou verskillende kampe was. Die verdeeldheid was nie goed vir die opbou van die Koninkryk nie.
Soos ons Paulus teen die tyd ken, smoor hy die stories dood sommer reg aan die begin. Hy sê vir die gemeente dat dit elkeen se verantwoordelikheid is om seker te maak dat wat hulle hoor en glo die waarheid is. Daarom sê hy vir hulle: 7Kom ek sê nou sommer reguit vir julle: julle leen julle ore uit aan die verkeerde mense. As julle dan so seker is dat julle aan Christus behoort, moet julle asseblief ’n slag met nuwe oë na my kyk. Weet julle, ek behoort ook aan Hom. Ek is ’n Christen, net soos julle.
Maar dit bly nie net by luister nie: 9Maar wag, kom ons gesels eers ’n bietjie oor al daardie praatjies onder julle… 10Daar by julle word mos gesê: “Paulus se briewe is ernstig en kwaai, maar hy beteken net mooi niks wanneer hy hier is nie. 11Die arme man maak maar ’n swak indruk en sy woorde is net ’n bondel wind. Hy preek ons skoon aan die slaap.” Hoor hier, dis alles leuens.
En dis presies hoe ons mense is. Ons leen ons ore uit aan elke ou en koerant en nuusberig en eet dit vir soetkoek op. Die volgende persoon wat by die deur instap, hoor weer die onbevestigde stories as die waarheid aan. En voor ons ons kom kry, lê die wêreld besaai met ’n klomp inligting wat nie waar is nie.
Ek kry die volgende petisie:
Die nuwe vertaling Bybel van 2016.
Hiermee wil ons graag u positiewe samewerking vra om te stem tot
die ware 33 tot 53 vertaling (Bybel). Daar word beplan dat alle
hoofletters van die Godheid uitgehaal gaan word. Dit is ook die doel van die satan om die outoriteit van JESUS te verneder. Met hierdie nuwe vertaling kan dit die volgende opkomende geslagte heeltemal vervreem van GOD.
Kom en staan op vir Jesus!! Die Weg! Die Waarheid en Die Lewe!
Stem vir Jesus Christus en stuur jou naam, en die woord petisie aan na: …
Stuur Hierdie Boodskap aan almal wat julle ken! Ons het ‘n Miljoen petisies nodig om die Nuwe Bybel te stop!
Ek het dit al ’n heel paar keer gekry en ek moet erken – dit het my nogal ontstel. Ek het beleef hoe my gedagtes op hol gaan oor die petisie. Ja, het ek dadelik gedink, dis nou die moderne mens wat die vertaling vir homself aanpas en vir God vergeet. Waar gaan die lewe eindig as ons so aangaan? God gaan seker op die ou end heeltemal uit die Bybel geskryf word. Nee, nou moet ons gewone Christene vir ’n slaggie opstaan en ons staal wys. Ons moet veg vir God in ons lewe en ons Bybels … en toe kry ek hierdie e-pos:
Beste medegelowige in Christus: Neem asseblief kennis dat die petisie teen Die Bybel: ʼn Direkte Vertaling (BDV) wat tans via e-pos en sosiale media (Facebook, Whatsapp, BBM, ens.) versprei word, van alle waarheid ontbloot is.
Die Bybelgenootskap van Suid-Afrika het reeds hierdie valse bewerings t.o.v. die BDV volledig beantwoord in ʼn amptelike verklaring wat besigtig kan word by die BDV se amptelike webtuiste: http://www.bybeldirektevertaling.co.za (selekteer die skakel wat lees: Verklaring van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika na aanleiding van ‘n petisie teen ‘n nuwe Afrikaanse Bybelvertaling). Stuur asseblief hierdie inligting aan vir enige persoon wat die petisie vir u aanstuur. Dankie vir u volgehoue ondersteuning en gebed vir die uitvoering van die visie van die Bybelgenootskap van Suid-Afrika: ʼn Bybel vir elkeen.
As Christene het ons ’n verantwoordelikheid om seker te maak dat die nuus wat ons oordra die volle waarheid is. Dit is ons verantwoordelikheid om seker te maak of die Bybelvertaling mishandel word, voordat ons dit aanstuur vir die volgende. Nou berus die verantwoordelikheid weer by hulle om seker te maak dat dit die waarheid is.
Daar kom baie stories by jou ore in. Voordat die stories verder deur jou mond die wêreld vol gesaai word, maak net seker dit is die volle waarheid. Indien jy onseker is, maak seker, of raak eerder daarvan ontslae sonder dat dit deur jou mond gaan.
Teks:
Om oor na te dink
Wat maak jy met die stories wat jy hoor?
Is dit alles die waarheid?
Praat jy oor alles wat jy hoor?
Gebed
Here, dis waar. Ons leen so maklik ons ore uit aan onwaar stories sonder om die moeite te doen om uit te vind of dit die waarheid is. Help my om nie my ore uit te leen aan enige stories of om dit te versprei nie. Amen