Smokkel met die kop
Gerespekteerde besigheidsmense op die dorp het hulle besigheid se boeke gekook. Soos gewoonlik, het die misdrywe aan die lig gekom en het die internasionale maatskappy inmekaargestort. Duisende mense het biljoene rande verloor.
Deur hierdie hele proses het die besigheidsmanne met hulle eie koppe gesmokkel en nie eintlik gedink hulle maak verkeerd nie.
’n Vriend kom sit hier in my kombuis en vertel van ’n man wat hom baie geld skuld. Hy vertel van die man wat ander mense ook baie geld skuld. Dis sy styl en in die proses kry mense seer.
Deur die man se hele proses laat hy toe dat hy met sy eie kop smokkel en glo nie eintlik dat hy verkeerd is nie.
Hoe maklik kan ’n mens dinge begin doen, wat eintlik verkeerd is en toelaat dat jou kop met jou smokkel, sodat jy later nie meer eintlik glo jy is verkeerd nie? Dit begin heel waarskynlik met ’n goeie rede.
“Ag, ek doen dit vir die ander mense. Kyk net hoe lekker geld gaan ek vir hulle maak.” “Ek sal hulle later terugbetaal, ek help net gou iemand anders uit die sop uit.”
Hierdie gesmokkelry met die kop, is egter nie tot geldsake beperk nie. In ons manier van lewe, begin ons dinge effe anders doen. Ons leef anders as wat ons ouers geleef het. Die wêreld het soveel verander.
Hiermee is daar geen fout nie. Ons kan mos nie in die verlede vasval en niks vorentoe ontwikkel nie. Die probleem is as die verandering êrens die grense tussen reg en verkeerd oorgesteek het en nou as die norm aanvaar word.
16Iemand wat optree volgens die maatstawwe wat mense stel, dink dit is hoe ’n mens behoort te leef. Dit is egter nie wat God dink nie. Want waar daar jaloesie is, of iemand wat net in homself belangstel en ander niks gun nie, kan mense nie in vrede saamleef nie. Hulle is gedurig aanmekaar. Dit pla hulle ook nie om sommer die lelikste goed aan mekaar te doen nie.
Dit gaan regtig moeilik daar buite en baie mense probeer om kop bo water te hou. Ons leer ons kinders om bo uit te kom en ag, as jy nou êrens op iemand moet trap, is dit nie so erg nie.
Skielik is dit OK om net aan jouself te dink en ander mense te gebruik en selfs seer te maak in die proses. Dit is nie OK nie! Dis nie OK om net aan jouself te dink nie. Dis die wêreld se manier van lewe.
Daar is met jou kop gesmokkel en volgens die mens se nuwe reëls het jy gedink is reg. Maar dis is vir seker nie so nie. Ons is vir mekaar gemaak. Om mekaar te bou en vir mekaar te gun wat elkeen het.
Kom ons keer dat daar met ons koppe gesmokkel word. Kom ons probeer regtig om mooi dinge aan ander te doen. Kom ons maak ’n verskil in ander se lewens en help bou. Die wêreld sal anders lyk en dit is wat ons moet doen!
Teks
Jakobus 3:13-18
Om oor na te dink
Watter verkeerde reëls het vir jou reg geword?
Hoe kan jy daarvan ontslae raak?
Waar moet jy ander meer help?
Gebed
Vader, help my om die regte maatstawwe te gebruik om te besluit wat reg en verkeerd is. As my maatstawwe vir die lewe ‘n bietjie die teiken mis, help my om dit weer reg te kry. In Jesus se Naam. Amen.