So ‘n bietjie bang vir die dood
Ek vang myself baie kere dat ek so effe bang is vir die dood. Veral as dit moeilik gaan, soos in die tyd wat die COVID-19-virus ons mensdom bedreig het. Waar die ekonomiese markte in hul dinges val, glip daar altyd ’n gedagte uit of dit nou die einde is.
Terwyl ’n mens so wonder, klingel my foon gedurig en sommige van die boodskappe is van mense wat selfversekerd uitbasuin dat die einde van die wêreld nou aangebreek het.
Dan kruip daar ’n onrustigheid in my op.
Dan moet ek selfondersoek doen. Is ek so geanker in die wêreld dat ek nie wil gaan nie? Leef ek te lekker en wil so graag eendag my kleinkinders sien of is ek eenvoudig net te bang om dood te gaan?
Ek lees die teks en wonder waar ek dit pot mis sit: 15So het Jesus die mense vrygemaak van die vrees wat hulle altyd nog vir die dood gehad het.
Ek wonder lank hoekom ek dan so ‘n bietjie bang is om dood te gaan.
Op ’n manier raak ek rustig, hoe meer ek hieroor dink. Ek besef dat ek nie meer bang is vir dit wat na die lewe op aarde met my gaan gebeur nie. Jesus het daarvoor gesorg.
Ons weet mos dat die loon vir sonde die hel is. As jy sonde gedoen het, was daar een paadjie om te stap en dit was reguit na die ewige verderf toe. Dit was nie ‘n lekker vooruitsig nie en vir seker nie ’n lekker pad om te stap nie.
Dit het baie vrees vir die dood gebring.
Gelukkig het Jesus hierdie appelkar kom omgooi. Hy het die spreekwoordelike angel van die dood kom uittrek deur self aan die kruis te sterf. Gelukkig het Hy nie in die doderyk gebly nie, maar deur die dood gebreek. Hy het die dood oorwin en hierdeur het Hy die krag wat die dood oor ons mense gehad het, kom breek. Die bande wat die mens vasgeketting het, het Hy kom afsny.
Die ewige dood het nie meer ’n houvas nie. Dié dood kan die mens nie meer vernietig nie. Jesus het ons kom vrymaak. Hy het die vrees kom wegneem en vir ons vrede en vreugde in die plek daarvan gebring.
Nou hoekom is ek dan nog so ’n bietjie bang vir die dood?
Stadig besef ek dat ek nie bang is vir die dood nie, maar eerder bang is om die bekende hier op aarde agter te los. Ek is verder bang vir die onbekende. Dit is heeltemal normaal vir die mens.
Ons hou nie van die onbekende nie. Ons wil presies weet hoe die volgende stap gaan lyk en dis die probleem met die hemel. Ons weet nie presies hoe dit gaan lyk en hoe ons gaan lyk en wat alles daar gaan gebeur nie.
En dit is reg so. Ten minste hoef ons nie bang te wees dat die ewige dood êrens onder ’n bos uit op ons gaan spring nie. Hiervoor het Jesus, dankie tog, gesorg!
Teks
Hebreërs 2:14-18
Om oor na te dink
Is jy ook so ‘n bietjie bang vir die dood?
Glo jy dat Jesus die angel van die dood uitgetrek het?
Hoe leef jy Jesus se oorwinning?
Gebed
Jesus, dankie dat U die angel van die dood getrek het. Dankie dat dit oraait is om effe skrikkerig te wees vir die onbekende. Dankie dat U verstaan. Amen.