God se Woord in vandag se woorde

Sonder bordjies om die nek


1 Korintiërs 10:23-33

Die wêreld het vir God so nodig. Mense val oor mekaar, omdat hulle nie kan sien nie. Mense is in die verkeerde rigting op pad. Hulle dink hulle het ware vrede en vreugde, maar net om die volgende draai val hulle hulself te pletter waar die pad teen ’n afgrond doodloop.

Die wêreld daar buite het God se lig nodig sodat hulle kan sien waarheen hulle op pad is. Maar wie sal die lig vir hulle bring? ’n Klomp van die kerke het so verwyderd en geslote geraak dat daar nie meer lig na die wêreld skyn nie. Nee, dit is nie ander se werk nie. Dit is ons elkeen se werk. Elke kind van God word geroep om die lig in ’n donker wêreld te gaan skyn. Ons moet so leef dat die wat nie vir God ken nie, Hom kan sien. Daarom sê Paulus: 31… alles wat julle doen, moet julle doen sodat mense kan raaksien hoe belangrik God is.

Met Moeder Teresa se dood in 1997 was sy en haar organisasie, Missionaries of Charity, aan die stuur van 610 sendingstasies in 123 lande. Dit sluit in hospiese en tehuise vir mense met Vigs, melaatsheid en tuberkulose, sopkombuise, kinders- en familieberadingsprogramme, persoonlike helpers, weeshuise en skole. Meer as 4 000 nonne was betrokke en die donateurs wat bygedra het oor ’n miljoen.

Een klein vroutjie wat die wêreld wou wys hoe lyk God.

Ek sê nie jy is die een wat nou alles moet verkoop en moeder Teresa se rol in Indië gaan oorvat nie. As ons almal egter daar waar ons woon, werk en speel klein Moeder Teresa’s word, gaan die wêreld duidelik anders lyk. Ons moet leer hoe om vir die mense te wys hoe lyk God. Daar waar ons deur die lewe loop, die manier waarop ons optree, die mense met wie ons in aanraking kom, moet God kan raaksien.

’n Dame vertel by ons kerk dat sy betrokke is by ’n organisasie van die Universiteit waar hulle die armste van die armes bystaan. Die mense wat daar inkom, sluip behoorlik kop onderstebo daar in. Die personeel spreek al die mense egter van die begin af aan as meneer, mevrou, oom of tannie. En net hierdie klein stukkie respek wat aan hulle bewys word, laat die kop sommer dadelik lig en dit lyk of die son in hulle duistere wêreld wil begin opkom.

Deur slegs een persoon wat hulle met respek behandel, sien hulle op ’n manier ’n stukkie van God raak en verander die beeld van hulself. Een klein dingetjie soos respek.

As jy God wil sigbaar maak, moet jy by die ander mense in jou lewe begin. Dink eers aan die ander een se behoeftes. Soek voortdurend plekkies waar jy goed kan doen. Wees sensitief om nie ander seer te maak nie. Eintlik moet ons soos Paulus probeer wees: 33Dit is presies wat ek doen. Ek dink nie net aan myself nie, maar probeer om goed te wees vir ander mense. Ek doen nie goed wat hulle irriteer of afsit nie, sodat hulle ook deur my optrede die Here kan leer ken.

’n Predikant vertel dat dit nie vir ’n leeu nodig is om ’n bordjie te dra om te sê: “Ek is ’n leeu” nie. Nee, ons almal weet presies hoe ’n leeu lyk en waartoe hy in staat is. Net so moet dit ook nie vir ’n christen nodig wees om ’n bordjie te dra wat sê: “Ek is ’n christen” nie. Dit moet sigbaar wees uit ons dade.

Ons elkeen het ’n baie groot roeping. Ons moet God aan die wêreld bekendstel. Mense moet vir God kan sien deur die manier waarop ons optree. As ons almal dit tog net vandag kan regkry!

Om oor na te dink

Sien ander vir God deur jou?

Waar moet jy eerder eerste aan ander dink?

Hoe kan jy God sigbaar maak in die wêreld?

Gebed

Vader, dankie dat ek weer kan besef wat my roeping is. Dit is ’n groot verantwoordelikheid en ek kry dit nie aldag reg nie. Gee my die krag om eerste aan die ander een te dink en plekke te soek waar ek deur my dade vir U kan sigbaar maak. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek