Sondig, sondiger, sondigste?
Ons almal is sondig. Ons almal het een of ander probleem. Ons almal het êrens ’n kamertjie wat ons nie vir ander wil wys nie. Hoe weet ek dit? Dis Adam en Eva en die slang se skuld daar reg aan die begin in die tuin van Eden.
Ongehoorsaamheid, begeerte om meer te weet, selfsug en nog meer, was die oorsaak dat die mens verkeerde keuses gemaak het. Dit het deur al die duisende jare nie veel verander nie en ons almal trek skeef.
Selfs Paulus het ’n doring in die vlees gehad.
Dit lyk egter asof sommige van ons dit vergeet. Dis asof ander se sondes of skeeftrek veel groter is en ons nou die “toestemming” kry om ons mond uit te spoel oor ander se groot, verkeerde keuses.
Ek vermoed ons praat graag oor ander se verkeerde dade, omdat dit ons beter laat lyk. Ek is darem nie so sleg soos Piet nie. Sannie doen darem baie erger dinge! Dit laat myne eintlik na niks lyk nie.
Is daar werklik grade in verkeerde dade? Is daar trappe van vergelyking soos sondig, sondiger en sondigste? Ek vermoed dat voor God sonde sonde is. Of dit nou ’n grote is en of dit nou ’n kleintjie is, dit bly verkeerd. ’n Grote maak nie ’n kleintjie reg nie.
So maklik raak ons betrokke by gesprekke oor wat reg en verkeerd is. So maklik maak ons ons oë groot vir daardie sonde wat nie deel is van ons arsenaal nie. Totdat iemand naby my in daardie strik trap en ek aan dieselfde kant van die lyn ingewurg word. Skielik verander ’n mens se storie.
Eintlik is hier ’n baie maklike reël. Moenie oordeel nie. Moenie vingers begin wys nie. Onthou, daar wys drie terug. Net om die volgende draai kan die appelkar omgegooi word en sit ons met die gebakte pere.
12Daar is net een Persoon wat belangriker is as die wet en dit is die Een wat die wet gemaak het. Hy alleen kan besluit wie vrygespreek word en wie veroordeel word. Wie is jy nou miskien om te maak of jy kan oordeel of iets kan sê oor jou medemens?
Miskien moet jy dit weer lees.
Eintlik kom bring die vers, alhoewel dit ons so-effe voor die bors stuit, vrede en vryheid. Ons hoef nie op al die groot vrae daar buite oor reg en verkeerd te oordeel nie. Dit is nie ons verantwoordelikheid nie. Los dit vir God.
Kom ons bly eerder binne die wet en doen wat ons moet doen. Kom ons wees lief vir almal, soos wat ons lief is vir onsself. Ons almal het ’n foutjie, sommige groter as ander, maar laat dit nie ons liefde vir ander bepaal nie. Laat ons Jesus se genade en liefde aan al die ander medesondaars uitdeel.
Teks
Jakobus 4:7-12
Om oor na te dink
Waar is jou sonde?
Waar oordeel jy?Waar moet jy eerder liefde saai?
Gebed
Vader, help my om nie te oordeel nie. Help my om mense nie in kamers toe te sluit nie, maar al stem ek nie saam nie, hulle nog steeds met U liefde lief te hê. In Jesus se Naam. Amen.