Soos akkers eers begrawe word
Klik hier om na Sondag se preek van Gerjo Ben: wmj op youTube te kyk.
Frieda van den Heever skryf hierdie aangrypende storie:
“Eendag, was daar ’n koninkryk van akkers aan die voet van ’n groot ou eikeboom. Hulle was ten volle verwesterse akkers – heel modern. Die “millennials” besig met doelgerigte energie. “Mid-life, baby-boomer”-akkers betrokke by ’n hele spul selfhelpkursusse. Daar is seminare aangebied: “Hoe om alles en meer uit jou akkerdop te kry”. Daar was verwondings- en rehabilitasiegroepe vir akkers wat gekneus is in hulle oorspronklike val vanuit die boom. Spa’s om die doppe te olie en blink te vryf en verskeie akkeropatiese terapieë om lewenskwaliteit, welstand en dopelastisiteit te bevorder.
Op ’n dag, in die middel van die koninkryk, verskyn ’n koddige vreemdeling – blykbaar laat val deur ’n verbygaande voël. Hy is vuil en het nie ’n dopkappie op nie. Hy maak ’n negatiewe eerste indruk op sy medeakkers. So, blaker hy toe aan die ander ’n wilde storie uit. Terwyl hy wys na die boom, sê hy: “ONS … IS … DIT.” “Waansinnigheid, uiteraard”, sê die ander akkers, maar een van hulle gaan tog voort in gesprek met hom. “So, sê vir ons, hoe kan ons daai boom wees of word?”
“Wel”, sê hy terwyl hy wys na die grond, “dit het iets te make daarmee om in die grond in te gaan en die dop te laat oopbars.” “Malligheid!” antwoord hulle. “Totaal morbied! Hoekom sou ons dit wou doen? Dit sal die einde van ons beteken.”
Die Woord van God werk andersom as wat die wêreld dink. Die wêreld sê ons moet baklei vir ons plek in die son. Die Bybel sê dat die wêreld behoort aan die sagmoediges. Die wêreld sê dat die sterkes sal oorwin. Die Bybel sê dat ons eers moet sterf.
Die akker moet eers onder die grond inkruip. Ja, die akker moet eintlik eers doodgaan, voordat ’n pragtige, groot, ou boom uit hom kan opstaan. Maar voor hy onder die grond kan inkruip of sterf, moet hy eers self die prentjie van sy potensiaal sien.
Hiermee sukkel ons. Ons sukkel as die wêreld ons leer om net bo die grond te bly en pleisters te plak. Op ’n manier raak dit vir ons lekker knus. Ons voel later selfs tuis en dink dis waar ons moet wees en bly. Tog keer dit ons om uit te kom waar ons moet.
10… Verneder julle voor die Here, en Hy sal julle verhoog. (1933-vertaling) Dis die Bybel se voorstel. Of in akkertaal, klim onder die grond, laat toe dat jou dop breek, sodat jy ’n pragtige boom kan raak. Gaan lê voor God en sê dat jy niks is nie. Sê vir God sonder Hom in jou lewe, is jy niks.
Ja, op ’n manier moet jy eers sterf.
Maar dan gebeur iets besonders. Uit die klein akkertjie rys ’n reuse boom. 10… God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig, en jou op ’n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan.
Glo dit. Leef dit. Gaan wees dit en wys ander.
Teks
Jakobus 4:7-12
Om oor na te dink
Waarin moet jy sterf?
Hoe en wanneer moet jy dit doen?
Met wie kan jy die akkerstorie deel?
Gebed
Here, dankie vir die akkerstorie. Die het my aangegryp. Ek weet dat daar soveel meer in my is en ek weet ek moet laag voor U buig. Ek moet eintlik sterf, maar ek is bang. In Jesus se Naam. Amen.