Soos Daisy de Melker, of nie
Nie vir sensitiewe lesers nie.
Daar is stories uit die verlede wat ek nie wil hoor nie, nog minder daaroor skryf, maar hierdie een moet ons deurworstel. Daisy de Melker het twee van haar mans en haar seun met arseen vergiftig. Hulle al drie het ’n erge dood gesterf.
Ek lees in Netwerk24 hoe Jans Rautenbach vertel oor Daisy:
“Sy’t soos ’n slagvark geskree …” Sy het haarself in so ’n skreeuende bondel toegeknoop dat die vrouebewaarders die nagskof moes roep om te help. Toe hulle vatplek aan haar arms kry, het hulle haar soos ’n sak patats van die Female Section onder in die hoek gesleep, langs die gang af, deur die enorme vierkant en aanhou sleep verder die volgende gang af.
Hulle het haar die trappe ook moes opsleep galg toe. Die laksman het ’n nuwe, langer tou geknoop en haar in ’n bondel met geskree en al gehang.
Rautenbach gaan voort en vertel hoe dit gewoonlik daar in Pretoria Sentraal gevangenis gegaan het:
Predikant, pastoor en priester kniel saam met die wat vra. Bid vir God om jou deur die poort van donker te dra. Waarheen weet niemand.
Die laksman kom volgende. Hy meet jou lengte en weeg jou massa om presies te weet hoe lank en hoe dik die tou moet wees om jou nekaf te ruk.
Hy hang sewe op ’n slag. Jy gaan staan op jou twee wit spore, onder jou tou wat wag. Hy kom van agter die ry en glip elkeen se tou oor elkeen se kop en druk die hefboom af. Dit neem sowat 30 sekondes vandat jy instap tot jy hang. Hy’s ’n meester in sy vak. Klein, vriendelike oubasie.
Ek is naar. Dis nie ’n netjiese prentjie nie. Maar Rautenbach skets ook ’n prentjie van die veroordeeldes:
Hul hoflêers beskryf en bewaar foto’s van gruweldade wat jou verstand inhamer. Tog bly hulle krampagtig soek na ontsnap uit ’n doolhof van reg en geregtigheid. Smeek aaneen om genade. Al tap die bloed hoe dik uit die dossier.
Eintlik moes dit ons almal se voorland gewees het. Op ’n manier moes ons pak vat, dalk nie gehang word nie, maar doodgemaak word vir die straf vir al ons sondes, daar waar ons nie die wil van God gedoen, doen of gaan doen nie.
Tog kan ons, omdat Jesus reeds ons straf gedra het, hierdie dood vryspring. Hoe?
10Buig baie laag voor die Here. Sê dat jy jou hele lewe net vir Hom wil leef. God sal jou optel, daar waar jy in oorgawe voor Hom buig, en jou op ’n ereplek regop, kop omhoog, langs Hom laat staan.
Teks
Jakobus 4:7-12
Om oor na te dink
Hoe voel jy?
Wat gaan deur jou kop?
Hoe laag kan jy buk?
Gebed
Here! Ek voel regtig nie lekker nie. My maag draai. Ek besef maar net weer wat Jesus vir my kom doen het. Ek buig laag en laag en laag voor U. In Jesus se Naam. Amen.