Soos die Gas Monkey Garage ouens
Ek geniet dit om na die ouens op die DStv-program, Gas Monkey Garage te kyk. Die ouens lyk nie altyd so lekker nie, maar die werk wat hulle doen, is asemrowend – dit slaan seker net ouens wat van karre hou se asems weg. Die manne vat ’n ou geroeste tjor wat eintlik op die ashoop hoort en verander dit dan in ’n splinternuwe spogstuk.
As die kar in die garage gestoot word, besluit hulle eers wat moet bly en wat moet gly. Gewoonlik is dit omtrent alles wat moet gly. Hulle klim met grinders, gasvlamme en groot hammers in en los omtrent net die raamwerk oor. Soms word selfs die raamwerk omgebou om plek te maak vir die nuwe goeters.
En dan begin die manne te bou. Die raamwerk word verstewig en verander waar nodig. Nuwe suspensie, nuwe enjin, nuwe remme, nuwe ratkas, nuwe ligte, nuwe uitlaatstelsel en blink nuwe wiele. O ja, dan kry die kar ’n splinternuwe afwerking aan die binnekant en alles aan die buitekant word oorgeverf.
Later kan ’n mens glad nie agterkom dat die nuwe spogstuk eens ’n ou geroeste tjor was wat glad nie kon ry nie. Die mechanics van Gas Monkey Garage het die ou kar uit die dode laat opstaan en nou gee dit vir die nuwerwetse motors ’n go op die teerpad. Ek sal nogal graag eendag in sulke wiele wil ry…
Maar dit is eintlik ook wat met ons gebeur het. Toe ons vir Jesus aangeneem het as ons Saligmaker, is ons ook in die hemelse garage ingetrek. Ons ou maniere of leefwyse en waardes is uitgepluk en met nuwes vervang. In Bybelse taal word dit soos volg gestel: 3Onthou, julle waardes het verander toe julle Christene geword het. Julle ou belangstellings en lewenstyl is dood en begrawe. Julle het ’n nuwe lewe gekry. Dit waarborg God vir julle.
Ons is nuut gemaak in Christus. Hy het vir ons ’n ander hart kom gee. ’n Hart wat nie meer net na onsself kyk en alles wil vat wat na ons kant toe kom nie. Nee, hierdie nuwe hart gee om vir ander. Die nuwe hart huil saam met ander wat seerkry en swaarkry.
Ons kry nuwe oë om sagter na ander se manier van doen te kyk. Ons hande verander, want ewe skielik wil ons iets vir ander doen. Ons voete verander, want dit loop graag na God se dinge toe. Selfs ons denke is nuut gemaak, want ons dink nou anders.
En as ek so na myself kyk, moet ek alweer my kop in skaamte laat sak, want ek sien nog te veel van die ou tjor in myself. Te veel van die roesplekke is nog sigbaar en die enjin self loop ook nie so lekker nie. Soms werk die brieke nie en foeter ek oor die grense. En ek wil dadelik vra: Waar lê die fout? Die teksvers sê dan dat God vir ons ’n nuwe lewe waarborg.
Dan onthou ek dat ek nog steeds in die sondige wêreld is en dat ek self die regte keuses moet maak. Dis asof ek daar in die Gas Monkey garage self staan en die mense wat die oue wil uitbreek en die nuwe wil inbou met alle geweld keer. Dalk moet ek en jy eerder oorgee aan die mechanics sodat hulle hulle werk kan doen.
Geleidelik sal ons stukkende parte vervang word met splinternuwes en die roeskolle sal een vir een verdwyn. Blink sal ons die ou wêreld kan in en vir ander wys hoe lyk ’n ware kind van God.
Teks
Om oor na te dink
Hoe loop jou vernuwingsproses?
Waar moet jy nog meer oorgee?
Waar kan jy vir ander help?
Gebed
Vader, dankie dat U die groot mechanic is wat nie ophou werk voordat U tevrede is met hoe ons lyk nie. Ek weet U sal aanhou om met my te werk totdat U trots is op wie ek is en hoe ek my lewe leef. Amen.