Soos die remme van ’n bus
Ek het as student vir Interkaap bus gery. Dis was vir my baie lekker en die R50 wat ek per dag verdien het, was vir daardie tyd ’n groot salaris. Een ding waarop die eienaar, Oom Johan Ferreira, baie ernstig was, was veiligheid. Die busse was groot en vinnig en ’n klein foutjie kon ’n groot ongeluk veroorsaak het. Daarom moes ons presies weet hoe om die bus te hanteer.
Die belangrikste van so ’n groot bus is natuurlik die remme. Die remme moes te alle tye opgepas word. Wanneer jy by ’n bult afry, moet jy met jou ratte die bus terughou en sorg dat jou remme nie warm word nie. As jy heeltyd op die remme ry, kan dit warm word en dan werk hulle eenvoudig nie. Dan is dit staal op staal met geen vermoë om die bus se spoed te breek nie. Die gevolge kan dan katastrofies wees. Wanneer so iets gebeur, is die drywer nie meer in beheer nie. Hy kan maar op die rempedale spring, die spoed sal nie verminder nie. Spoed neem die beheer van die bus oor.
By sommige groot passe en afdraandes is daar gruis putte. Dit is daar om groot voertuie wat se remme nie werk nie en waar die drywers buite beheer is, ’n kans te gee om hulle spoed te breek. Op ’n manier gryp die gruis die beheer van die voertuig oor en dwing dit tot stilstand.
Wanneer ’n mens té veel wyn drink, is dit ook soos brieke wat te warm word. Dan is daar nie meer keer nie en iets anders vat beheer oor. Mense sê dinge wat jy nog nooit die guts voor gehad het nie. Jy doen dinge wat jou ma jou geleer het om nooit te doen nie. Jy raak sommer sterk en ander raak kleiner en voor jy jou kom kry, sit jy op jou agterstewe met ’n oog wat klop.
Soms is daar vriende wat jou keer voordat jy jou naam met ’n plank slaan, maar soms is daar nie ’n gruisgat aan die onderkant nie en jy sien jou alie.
18Moenie te veel wyn drink nie, want dan verloor ’n mens beheer oor jouself. Laat jou hele lewe eerder deur die Gees beheer word.
Wanneer ’n mens te veel wyn drink, neem dit die beheer van jou lewe oor. Jy is nie meer in beheer nie en kan nie bepaal wat die uitkoms is nie. Jy het nie beheer oor wat jou tong en hande doen nie. Al wat jy gaan oor hê is heel waarskynlik ’n hoop skuldgevoelens die volgende oggend.
Nee, gee eerder die beheer oor aan Iemand wat jy kan vertrou. Iemand wat weet van. Iemand wat jou nie in die steek sal laat en jou met ’n hoop skuldgevoelens gaan agterlaat nie.
Ware vreugde, ware wysheid, ware vrede, ware krag kom slegs na vore as die Heilige Gees in beheer is.
As jy vreugde, wysheid, vrede of krag mis, gaan kyk wie is in beheer van jou lewe…
Om oor na te dink
Het jy vrede, vreugde, wysheid en krag?
Wie is in beheer?
Drink jy soms te veel?
Gebed
Here, ek weet al die dinge. Ek weet dat ek volle beheer aan die Heilige Gees moet gee, maar ek sukkel. Ek het hulp nodig! Amen