Soos ’n boemelaar wat deel
Pieter (skuilnaam) stap in die strate van New York rond en vra by kliënte van straatkafees of hulle nie vir hom ’n stukkie pizza het nie. Hy het baie lanklaas geëet en is verskriklik honger. Hy probeer dit by ’n hele aantal mense, maar almal jak hom af en jaag hom weg.
Hy gaan dan na ’n boemelaar wat moeg langs ’n gebou sit. Hy gee vir die persoon ’n boks met orige pizza. Die man is duidelik dankbaar en begin dadelik daaraan te eet.
Terwyl die man nog besig is, kom Pieter vermom daar aan en vra vir die boemelaar ’n stuk pizza. Sonder om twee keer te dink, gee die boemelaar vir hom ’n stuk en sit en smul die twee vreemdelinge lekker.
Dis ’n eenvoudige verhaal van ’n boemelaar wat weet van honger, wat weet van verjaag word, wat weet van soos ’n hond behandel word. Al het hy min, deel hy graag, want hy wil nie ander mense soos ’n hond laat voel nie.
Op ’n manier het die omstandighede waarin die boemelaar is, hom gevorm. Op ’n manier het God die omstandighede gebruik om hom te vorm. Op ’n manier het God hom vaardighede gegee om goed te doen aan ander, al sit hyself nie goed daar in nie.
Ons almal het een groot gemeenskaplike doel op aarde en dit is om ’n verskil te maak. Orals waar ons gaan, wil God ons gebruik om ander mense se lewens te verryk. God wil ons gebruik om goed te doen.
Hiervoor hoef ons eintlik nie te gaan swot nie. Ons hoef nie spesiale kursusse te volg om dit te doen nie. Nee, God gebruik die omstandighede om ons te vorm, sodat ons hierdie gawe van goed doen, wat ons ook van Hom ontvang het, saam met die tekkie die teer laat tref.
Ons elkeen is gebore met ’n gawe, sommige ’n paar, om vir ander die lewe makliker en lekkerder te maak. Dit is outomaties deel van die pakkie. Maar op ’n manier kry sommige dit reg om dit onder ’n emmer te sit en nie ’n stuk van hul pizza te deel nie.
Ek wonder hoekom sal ’n boemelaar ’n stukkie van sy min deel en die kafee-kliënte, wat oorgenoeg het, die ander se honger nie raaksien nie of net ’n veer daarvoor voel?
Dalk is hulle net so grootgemaak. Dalk is hulle oë so styf vasgenael op hul eie drome en behoeftes, dat hulle nie die baie wat hulle het, raaksien nie. Daarom sien hulle ook nie die min van ander raak nie. Daarom sien hulle nie die nood van ander raak nie en jaag hulle eerder weg.
Ons almal het so ’n streep. Ons almal is woes besig om ons eie wêreld in orde te kry en dit op te bou vir die oudag. Wanneer ons so besig is met onsself, is ander eerder ’n oorlas as ’n potensiële kliënt aan wie ons genade kan uitstort. Ek is ongelukkig ook deel van die groep.
Daarom bid ek vir jou en vir my: 21Mag hierdie God van vrede ons alles gee wat ons nodig het sodat ons kan doen wat Hy van ons verwag … Sodat ons ook soos die boemelaar kan deel.
Teks
Hebreërs 11:20-31
Om oor na te dink
Glo jy God het jou geroep om ’n verskil te maak?
Glo jy God rus jou toe om ’n verskil te maak?
Waar moet jy ’n verskil gaan maak?
Gebed
Vader, hoe kan ek nie die nood van die wêreld om my raaksien nie? Ek weet ek moet ’n verskil maak en ek weet U rus my toe om dit te doen. Help my om dit te begin doen. In Jesus se Naam, amen.