Sosiale netwerke steel
Die sosiale netwerke is verslawend.
Uit die aard van ons bediening moet ek gedurig seker maak dat al die plasings na die verskillende platforms op die sosiale netwerke deur is. Maar toe kom ek agter dat ek nie net kyk of al ons goed geland het nie. Ek snuffel sommer gou deur die nuusvoere om te kyk watter vars nuus daar is.
Later sal ek vir myself sê dat dit nou genoeg is, die werk wag, maar dan sê die ander stemmetjie mos: “Nog net so ’n paar keer afrol. Dan kan jy toemaak.” En voor jy jou kom kry, is daar 15 minute of ’n halfuur in die drein af.
Vir wat? Hoekom wil ek nou hoor van ander se persoonlike skinderstories? Hoekom wil ek nou sien hoe honderd mense dom dinge aanvang? Hoekom wil ek foto’s sien van ’n dronk ou wat ’n ander dronk ou bloedmond geslaan het?
Ek het sommer die kortpad-ikoon na die sosiale platform van my rekenaar af verwyder.
Ek wonder hoeveel tyd daagliks by besighede via sosiale netwerke gesteel word? Ek wonder hoeveel werknemers is besig om via geselskanale soos WhatsApp met vriende en familie te gesels. Ek wonder hoeveel grappe en snaakse videosnitte word gedurende werkstyd deur werknemers gekyk?
Ek wonder wat sou die base doen as die werknemers ’n sitkamerbank in hul kantore indra en heeltyd vriende en familie nooi om in te kom en lekker te gesels oor wat hulle doen en wat vanaand gaargemaak gaan word? Ek wonder wat sal hulle sê as die werknemers ’n TV teen die muur opsit om snaakse prentjies en video’s te kyk?
Klink dit dalk ’n bietjie verregaande? Wel, of jy dit nou op klein skermpies of ’n grote teen die muur kyk, dit steel nog steeds jou tyd by die werkgewer.
Die Woord van God is baie ernstig dat ons nie by die werk moet steel nie: 10Ook moet hulle nie dinge steel nie sodat ander moet kan sien dat hulle in alles eerlik en betroubaar is.
Ja, ’n mens kan tyd ook steel. Sal jy voor jou baas oop en bloot al die tyd op die sosiale en kommunikasienetwerke spandeer? Indien die antwoord “nee” is, steel jy tyd by hom of haar. Dis so maklik soos dit.
En natuurlik gaan dit nie net oor tyd nie. Ons moet niks van die baas vat sonder om toestemming te vra nie. Moenie eens dit waag om ‘n stukkie geld te vat nie. Sonder dat jy dit besef, raak dit meer en meer.
Dis soos die finansiële dame by ons kinders se skool. Sy is gevang waar sy honderde duisende rande in haar eie sak gedruk het. Sy het nie by die groot bedrae begin nie. Aan die begin was die bedraggie maar klein. Nou sit sy in die tronk …
Ons wat kinders van God is, moet in alles wat ons doen eerlik wees. Ons moet ons beste vir ons werkgewers gee. Ons moet die aanbevole mense wees as daar iemand gesoek word wat betroubaar is. As hulle geld en inligting by iemand met vertroue wil los, moet ons wat kinders van God genoem word, heel eerste in die ry staan.
Teks
Tit 2:9-10
Om oor na te dink
Hoeveel tyd spandeer jy op sosiale netwerke by die werk?
Is jy in alles eerlik?
Waar sal jy moet anders?
Gebed
Here, help my om heeltemal eerlik te wees met my tyd by die werk. Ek is al so gewoond aan hierdie manier van doen. Help my asseblief om hierdie slegte en verkeerde gewoonte te breek. Amen.