Spesiaal om minder te wees
Ek onthou ’n insident van my dae in die besigheidswêreld. ’n Halfuur voor die invalklok by die fabriek lui, sit ek met die 3 projekbestuurders en beplan hulle dag se doen en late. Die een wat laaste daar aangesluip kom, vra eerste: “Wanneer lees ons weer ’n stukkie uit die Bybel? Ek is honger.” Sjoe, daai was so ’n ligte tik op die vingers.
Ek het my opdrag vir ’n tyd laat slaplê. Gelukkig het die vorige gedeelte nog vars in my geheue gelê en ek weet dit sou vir hulle net so baie beteken. Ons maak almal bymekaar en ons raak stil rondom die teks: 12God het julle gekies. Julle is sy spesiale mense in die wêreld. Hy is baie lief vir julle. Daarom moet julle die “klere” aantrek wat by julle pas. Jy moet baie vir ander mense omgee en gaaf met hulle wees.
Ek kon sien dat die een vers vir baie van die werknemers baie beteken het! Dit maak nie saak hoe sleg dit op daardie oomblik met jou gaan nie, want wanneer jy die ongelooflike nuus hoor, wil jy bokspring van vreugde. Die almagtige, grote God het my gekies! Ek is spesiaal! God het my lief!
Wanneer jy hierdie drie goedjies besef:
- God het my gekies,
- ek is spesiaal en
- God het my ontsettend lief
… begin daar iets in jou roer. Dit wat God vir ons doen, is té groot vir ons om net so onveranderd te staan. Êrens moet ons iets begin doen, want dit wat ons hier ontvang, is té veel om vir onsself te hou. Ons moet van dit aangee.
Die beeld oor die klere werk so goed vir die fabriekswerkers, want hulle trek elke dag ander klere aan as hulle by die fabriek kom. Oorpakke wat vuil kan raak. Klere wat pas by die fabriek. Vanaand, as hulle teruggaan huistoe, trek hulle weer klere aan wat pas by die huis.
Hulle verstaan die beeld dat jou klere moet pas by dit wat jy glo. Mense om jou moet jou status in God ervaar. Dit is soms makliker om ietsie vir die vreemdes wat so vêr van jou staan iets te doen, maar die wat hier langs jou leef… dit is nie so maklik om altyd vir hulle om te gee en gaaf teenoor hulle te wees nie.
Dit is egter die klere wat ons moet aantrek. God het ons spesiaal in die wêreld geplaas. Ons is Sy geliefdes. Dit mobiliseer ons om om te gee en gaaf met ander mense te wees.
Wanneer ek besef dat God my liefhet en my spesiaal ag, kan ek nie verder onveranderd lewe nie. Hier binne my begin goed verander en dit is die mense om my wat dit eerste agterkom. Jy is anders. Jy is so gaaf. Jy dink nie meer net aan jouself nie.
Deur die werking van die Heilige Gees begin jy nou eerste aan ander dink. Jy wil eers vir ander iets doen voordat jy aan jouself dink. En dit is vir seker nie hoe ons aan die begin was nie. Partymaal was ons eintlik maar ’n knorpot wat ongeskik was teenoor ander. Dit is omdat God die eie ek in ons lewe minder laat word en Hy déúr ons na ander mense wil uitreik.
Probeer jy net vandag bewustelik sien dat God ook vir die mense om jou gekies het, dat Hy vir hulle lief is en dat hulle spesiaal is in God se oë, net soos jy. Probeer om so effe terug te staan en ander te laat goed voel oor hulleself. Die Heilige Gees hou daarvan om in sulke omstandighede te werk!
Trek die klere aan wat by jou geloof pas. Weet dat God jou liefhet en jou spesiaal gemaak het om ’n verskil te maak daar waar jy gaan. Jy is spesiaal gemaak om juis minder te wees, sodat God meer in jou lewe kan wees. Mag die wêreld beter wees, omdat jy God se klere dra.
Teks
Om oor na te dink
Hoe lyk jou klere?
Ervaar ander dat jy spesiaal in God se oë is?
Hoe gee jy om?
Gebed
Vader, ek is so dankbaar vir U liefde en dat U my spesiaal ag. Ek besef dat my dade ook in lyn hiermee moet wees en dat die klere wat ek in die wêreld dra, dit moet weerspieël. Ek wil omgee. Ek wil uitreik na ander en dit vir hulle lekker maak om langs my te leef. Mag ek vandag werklik ’n verskil in ander se lewens maak! Amen.