Staan op en bid vir ons land
Wanneer onreg daar doer is, raak dit ’n mens nie eintlik nie, maar as dit nader aan die lyf kom, is dit anders. ’n Boer word koelbloedig in sy huis doodgeskiet net hier anderkant Stellenbosch. Sy dogtertjie staan en aanskou hoe haar pa in ’n plas bloed lê. Hulle lewe verewig verwoes deur … Ek keer my om eerder nie te sê wat ek dink van die moordenaars nie.
Die daaropvolgende dag is dit voorbladnuus. Die sosiale netwerke gons. ’n Vriendin van my stuur ’n video wat ’n boer sommer daar in sy bakkie met sy selfoon geneem het waarin hy vra dat almal die Maandag swart moet aantrek. Ek kry die video ’n paar keer deur die dag uit verskillende hoeke.
Uit respek gaan staan mense met hulle voertuie in die pad voor die plaas waar die moord gepleeg is. Daar is honderde mense. Nog video’s verskyn van 3 manne wat van Gauteng Kaap toe stap om die wêreld attent te maak op al die onsinnige moorde op plase. ’n Groot organisasie kort nog net 3 000 stemme om die 100 000 kerf te bereik sodat hulle stem by die Verenigde nasies gehoor kan word.
Ek sien ’n foto van die moordenaars van die boer. Iemand skryf onderaan: ’n mens kan die duiwel in hulle sien. Sjoe, dis darem hard…
Maar dis nie net op die plase wat dit so gaan nie. Hier op die Kaapse vlaktes lewe die mense in vrees. Die hoeveelste dogtertjie is dood van ’n verdwaalde koeël. “Die bendes het laasnag weer so op mekaar geskiet dat ons nie kon slaap nie,” sê die een vrou.
In elke stad en in elke dorpie van ons land is daar êrens chaos op ’n hoop. Eintlik is dit maklik om net jou kop weg te draai en te maak of dit nie bestaan nie. Maar as dit so na aan die lyf kom, kan jou kop nie wegdraai nie.
Daarom moet ons saamstaan en saam bid, want op ons eie gaan ons dit nie regkry nie. Ons het versterkings nodig. Ernstige versterkings. Ons moet bid. Ons moet bid dat God sal kom help. Soos Paulus dit eenvoudig vir ons sê: 2Dit maak nie saak of dit die belangrikste persoon in die regering is en of dit sommer ’n gewone polisieman is nie, bid vir elkeen wat moet sorg dat alles goed gaan in die gemeenskap.
Ja, dis wat ons saam kan doen! Dis wat ons saam moet doen. Ons moet bid vir ons land. Ons moet bid vir die regeerders wat op hierdie stadium in ons gewone mense se oë groot gemors aanvang. Ons moet bid dat God hulle sal omswaai en dat al die ongeregtigheid sal stop.
Ons moet bid vir die ondersteuningsmagte. Dat God hulle sal help beskerm. Dat Hy hulle wysheid sal gee. Dat Hy hulle sal help om saam te staan om die onreg te beveg.
Ons moet bid vir ons land. Ons moet bid dat God ons sal help om ons land te help. Ons moet bid dat God ons sal help om saam op te staan.
En die gevolg?
2… Julle sal die vrugte daarvan pluk, want julle sal dan in rus en vrede julle gang kan gaan en kan leef soos God wil hê julle moet leef.
Aijaijai, hoe smag ons nie hierna nie. Kom ons droom dit. Kom ons bid daarvoor. Kom ons doen ons deel en staan saam op teen die onreg in ons land.
Teks
Om oor na te dink
Bid jy vir ons land?
Staan jy op vir ons land?
Wat kan jy doen?
Gebed
O God, ons het U nodig. Op ons eie is ons besig om droog te maak en toe te laat dat mense die een na die ander vernietig. Mag U ons genadig wees en ons kom help. Dit is net U wat ware vrede bring. Amen.