Staan op jou tone
’n Getuienis:
Ek was alleen in my motor, in my oprit, toe ek deur twee mans gekaap is. Hulle het ‘n vuurwapen teen my kop gedruk. Hulle wou my saam met hulle neem. Ek het my oë toegemaak en vinnig gebid en gevra: Here, hoe nou gemaak? Ek was vrek bang. Om te weet my man wag vir my in die huis, onwetend wat besig is om agter die garagedeur te gebeur.
Ek het die motor se deur oopgemaak, die man van balans gedruk, uitgespring, alles net so gelos en gehardloop. Hulle is met alles weg: My kar, my handsak, my huissleutels en ook die kluis se sleutels.
Ek was daarna bang om na my eie huis terug te kom. Hoekom en waarom? het ek gevra. Ek het vir berading gegaan, maar dit het nie veel gehelp nie.
Een middag het ek huis toe gery en so in die ryery het ek met die Here gepraat en gesê: “Here, ek is U kind, hoekom laat U toe dat hierdie dinge met U kinders gebeur? Here, ek vra nie baie nie, bewaar my net elke dag teen aanslae van die lewe en bring my veilig tuis.
Dit het lank gevat, maar my gebede en vertroue in die Here het my hierdeur gedra. Ek het my vrese oorwin en kon weer met gemoedsrus elke dag huistoe kom.
Ek weet dis moeilik om weer aan te pas en veilig in jou eie huis te voel, maar sonder gebede en vertroue in God sal dit vir almal moeilik wees.
Vir elke persoon wat al in so ‘n situasie was, wil ek sê: “Byt vas. By God is niks onmoontlik nie.”
Hierdie is nie ’n unieke situasie nie. So baie mense in ons land stap met een of ander letsel as gevolg van soortgelyke gebeure. So baie mense sit op die stadium binne ’n groot krisis en weet nie hoe om daar uit te kom nie.
Antwoorde en troos lê nie sommer om elke hoek en draai gesaai nie, maar op ’n manier het hierdie vrou dit reggekry om, ten spyte van die ingrypende ervaring, na God te kyk. Dag na dag as sy die inrit nader, het vrees haar toegepak en het koue sweet by haar slape afgeloop. Maar met genade van Bo gryp sy na Bo. Op ’n manier kry sy genade om haar oë van haar angs en seer en swaar te lig, eintlik van die realiteit te lig en op te kyk na God.
Dis soos Paulus gemaak het: 18Ons staar ons glad nie blind teen alles wat hier met ons gebeur nie. Nee, ons kyk by al ons probleme en teenslae verby. Ons oog is net op God se wêreld ingestel.
Ek weet dit is moeilik om tussen die probleme jou kop te lig en te sien daar is ’n uitkoms. Die berg is net te groot. Maar dalk moet ons soos die vrou maak en bo-oor ons opstandighede kyk. Kom ons glo met ons hart dat God hier by ons is, al skree al die omstandighede en ons hele wese daarteen. Kom ons skree dit uit: God is die hele tyd by ons en kom ons probeer op ons tone staan om daar in die verte die son te sien opkom!
Om oor na te dink
Hoe groot is jou probleme?
Kan jou oë bo-oor dit kyk?
Sien jy vir God?
Gebed
Vader, ek is moeg gesukkel. Ek is moeg om dag vir dag in al my omstandighede vas te kyk. Ek smag na U. Ek smag om net ’n stukkie van U raak te sien. Gee my nou die krag. Amen