God se Woord in vandag se woorde

Staan op teen teenstand


Oom Paulus vergeet sy jas en boeke. Ja, selfs hy is ’n outjie met ’n paar foutjies. Maar tog gebruik God hom. En snaaks genoeg, gebruik God ook ’n krom stok soos ek om ’n verskil in ander mense se lewens te maak. Ten spyte van al my foute.

Vir jou ook! Ja! God wil ook vir jou gebruik, al dink jy jy maak nie die cut nie. Al dink jy, jy het te veel foute. Maar ook ten spyte van jou foute wil God jou gebruik.

En net soos ’n mens nou uiteindelik oor die brug is en weet dat elkeen geroepe is, kom die eerste uitdaging sommerso aangerol. Vra maar vir Paulus: 14Aleksander, die kopersmid, het my ’n groot klomp skade aangedoen. Die Here sal wel met hom afreken. 15Julle moet ook versigtig wees vir hom, want hy het sy bes probeer om alles wat ons sê belaglik te probeer maak.

Die ou het nie sy mond gehou nie. As Paulus iets sê, het hy sy bes probeer om hom teen te gaan. Aleksander het so vêr gegaan dat hy teen God gelaster het. Die aanvalle teen die waarheid was erg en as jy nie presies geweet het waarvoor jy opstaan én waarteen jy veg nie, kon ’n mens maklik die pad byster raak.

Wanneer ons dus hoor dat God ons roep, te midde van al ons foute, moet ons nie te gou die aanbod aanvaar nie. Dit klink baie snaaks, so asof ons ’n keuse het om God se hande en voete hier op die aarde te wees.

Ja, ons het ’n keuse, maar as ons regtig besef wat God vir ons deur Jesus aan die kruis gedoen het, dring dit ons om iets te doen. Dan kan ek nie anders as om ander ook te laat deel in hierdie ongelooflike, verlossende boodskap nie. Dan is die keuse eintlik vir my gemaak.

Ons moet egter nie blindelings inhardloop en dink dit sal altyd maanskyn en rose wees nie. As ons onsself uitsit vir ’n toffieappel gaan iemand ons êrens langs die pad ’n kou gee. Ons gaan teenstand kry. As mense se hokke geskud word, gaan dit ’n groot geraas en gefladder tot gevolg hê.

Nog minder kan ’n mens dit op jou eie doen. Ons moet hande vat met vriende, familie en kollegas. ’n Dubbele tou is net soveel sterker as ’n enkeltou. Wanneer die een se energie op is, kan die ander een weer voor trek, terwyl ons batterye gelaai word. So kan ons mekaar aanmoedig om staande te bly teen die mense wat ons probeer stilmaak.

Gelukkig weet ons ook dat God ons nie alleen laat nie. God sal ons beskerm teen mense wat ons wil onderkry. Ons moet sorg dat ons verhouding met Hom stewig is en genoeg tyd elke dag opsy sit om met Hom te praat. Dit is binne dié verhouding wat God ons sal touwys maak. Hy sal ons troos as ander ons met hul monde skop en slaan.

Ons moet ook weet dat God met die mense sal afreken. Eendag sal hulle hul slae ontvang vir hulle werke.

Dit staan soos ’n paal bo water: God wil jou gebruik, soos jy is. Al dink jy, jy is nie geskik nie. Daarmee saam moet jy teenstand verwag. Dit is OK, want die waarheid maak soms seer en dan gaan mense probeer om jou uit te haal.

Gelukkig help God se Gees ons om staande te bly. Hy sal ons trane afvee en ons krag gee om môre weer op ons pos in die wêreld te wees.

Teks
2 Tim 4:9-18

Om oor na te dink
Is daar mense wat soms teen jou opstaan?
Hoe hanteer jy hulle?
Hoe wil God hê moet jy hulle hanteer?

Gebed
Vader, ek is nogal nie so goed met kritiek nie. Help my om te onderskei waaraan ek my moet steur en watter ek net vir U moet los. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek