Staan op vir wat jy glo
Ek lees mos nie graag nie, maar om een of ander rede prikkel die boek van Foeta Krige my vreeslik. Soveel so, toe ons op die lughawe staan om na Namibië te vlieg vir ’n week lange toer, het ek besluit om vir my ’n kopie van SABC 8 te koop.
Sjoe, die stories wat hy vertel, laat my snak na my asem. En ja, dis ’n hoop negatiewe stories. Die grootste hiervan is seker die van die man wat homself opgewurm het tot COO van die SABC. Hy het homself met miljoene rande beloon, links en regs mense laat gaan wat nie wou maak soos hy maak nie, selfs die grondwet verander om ongemagtigde sensuur toe te pas. Dis maar ’n puntjie van die ysberg. Dit alles sonder dat hy matriek deur is en nog daaroor gelieg het op sy aansoekvorm.
Dis siek.
Die gevolge was wyd en lyke het orals gelê. Dit was net sy base, in wie se hand hy ’n pion was, wat gedink het hy is die beste ding sedert gesnyde boord.
Ek vermoed die ou het nie op sy eie so korrup geword nie. Hy was maar net die pion en het sy instruksies van bo gekry. Hy het maar net in hulle treë gestap. Hy het maar net soos hulle gedoen en gesê.
En “hulle” het juis dit waarvoor hulle gestaan het, dit waarin hulle geglo het, verkrag. Hoe kan jy die teenoorgestelde doen en van jou mense, jou land, ander steel en ’n stokkie steek voor die drome wat julle saamgebring het?
Maar kom ons laat dit eers daar. Ek dink nie daar sal sinvolle antwoorde van hulle af kom nie.
Die groot probleem is dat hulle verblind is. Hulle oë het weggetrek van vryheid en gelykheid vir almal in die land na eie gewin. Die gevolg was dat ’n hele land se ekonomie in duie gestort het en mense van baie ontneem is.
Hoekom vertel ek die storie?
Wanneer ons toelaat dat daar met die waarheid gesmokkel word, is die kanse goed dat alles ineen gaan stort.
Hieruit moet ons ook leer. Ons moet seker maak dat ons nie toelaat dat dit waarin ons glo, afgewater word nie. Paulus waarsku vir Titus: In alles moet jy self vir hulle ‘n voorbeeld stel van goeie werk, suiwerheid in die leer … (1983-vertaling)
Die arme COO van SABC se voorbeeld wat hy van bo afgekry het, was nie lekker nie. Die “leer”, dit waarvoor hulle geveg en gestaan het, van die regerende party is met selfsug besmet. Hulle het nie meer gevra “wat kan ek gee” nie, maar eerder, “wat kan ek vat”? En toe stap hulle volgelinge agter hulle aan.
Dit bly ons verantwoordelikheid om altyd seker te maak dat die leiers agter wie ons aanstap die suiwer leer van ons Vader, Jesus en die Heilige Gees vertel. Ons is verantwoordelik vir die mense wat in ons spore trap. Sorg dat hulle die regte spore stap. Help hulle om God se Woord te leer en hul woorde een vir een daaruit te haal en help hulle om daardie woorde juis suiwer in die wêreld te gaan uitleef.
Teks
Tit 2:6-8
Om oor na te dink
Waar is daar onsuiwer kolle?
Waar moet jy dalk jou lig skyn?
Waar moet jy dalk jou mond oopmaak?
Gebed
Here, U roep ons om deel te wees van die Lig. Ons moet ons lig skyn in die donkere wêreld, maar ek is bang. Ek is bang vir die gevolge. Lei my om die regte ding te doen. Amen.