Staan voor die deur
Ek het dit al baie gesê, maar ’n Christen kry nie ’n binnebaan in die lewe nie. Inteendeel. Soms sal die winde erger waai en dit kan voel of die storms jou gaan pap druk. Versoekings kom die een na die ander aangerol en ’n mens sukkel om staande te bly. Tog moet ons aan die een versekeringspolis vashou: God sal ons nooit los nie. God sal nooit toelaat dat al die aanslae ons onderkry nie.
13God sal julle nie in die steek laat nie, maar doen wat Hy gesê het. Hy het mos gesê dat Hy nie dinge met jou sal laat gebeur wat jou as Christen van balans af sal gooi nie. As daar dan dinge gebeur wat jou van God se pad wil afkry, sal God jou help om die regte besluit te neem en jou dan die krag gee om te doen wat jy besluit het.
As ons ’n slaggie terugsit en so oor ons lewe tuur, sien ons God se hand gereeld daaroor. Ons sien tye toe ons heeltemal verkeerde keuses gemaak het en hoe God se hand gekeer het dat ons deur die golwe verswelg word. Jy sien, God los ons nooit nie. Op ’n manier kom Hy keer op keer weer vir ons deur, al is dit as gevolg van ons eie dom besluite dat ons in tamatiestraat rondloop.
Ek het trane in my oë gekry toe ek die getuienis van Danny lees:
Ek was 33 jaar gelede ontslaan uit die gevangenis. Daar het elke Sondag ‘n pastoor kom diens hou en hy het ons altyd bemoedig. Hy het gesê toe ons in die gevangenis beland het, het daar ’n deur toe gegaan, maar as ons eendag vrygelaat word moet ons glo dat daar weer ’n deur vir ons sal oopgaan.
Ek het toe my parool klaar gemaak en na ek vir ’n boeta in Lansdowne vir 3 maande gewerk het, het ek werk in die stad gaan werk soek. Toe ek my weer kom kry, staan ek voor dieselfde gebou waar ek werk gesoek het voor ek gevangenis toe gegaan het, maar die vorige keer was daar ‘n bordjie wat gesê het no vacancies. Die keer was daar niks bordjies nie. Ek het gestaan en kyk na hierdie groot gebou wat genoem was Provincial Administration Building met net een ding op my mind: Here, is dit die deur waarna die pastoor verwys het? In my hart het ek die sterk verlange gehad om hier te wil werk. Terwyl ek nog so staar na hierdie gebou het ek geweet dit is die geopende deur en ek staan nog so in gedagte toe hoor ek iemand se stem. Dit was toe ‘n man in ‘n vaal suite. Hy vra toe vir my of ek in Athlone bly. Ek sê toe ja. Hy vra toe of ek nie vir sis en so wat ook daar bly, ken nie. Ek speel toe maar saam. Heel laastens vra hy my toe of ek iemand soek .
Ek verduidelik toe vir hom dat ek eintlik werk soek. Hy kyk toe ’n lang ruk na my en sê ek moet wag. Hy is toe die gebou in. Na ’n lang ruk kom hy uit eindelik terug en sê ek moet die trappe opkom. Ek is toe die gebou binne en was ge-interview. Alles loop toe suksesvol. Die man se naam was meneer Fanie. Hy sê toe vir my op die stoel lê ’n vaal overall wat ek moes aantrek.
Dis nou byna 32 jaar gelede. Ek is nou 14 jaar ‘n wedergeborene en daarvoor prys ek die Here. Was dit nie vir sy liefde, genade en ook die geopende deur nie, waar sou ek my bevind het? All praises goes to the Lord! Amen.
Danny getuig kliphard van sy God wat Hom nooit gelos het nie. Ja, Danny het oor ’n paar versoekings geval en moes hard daarvoor betaal, maar selfs dit het God nie afgeskrik en laat wegtrek van Danny nie. Nee, God los nie sommer nie. Al het Danny nie teen daardie tyd sy Skepper so goed geken het, het hy tog vasgehou aan die wete dat God vir hom sal sorg en sal help met ’n deur wat oop is.
Ons moet almal, soos Danny, aan die belofte vashou. Ons moet weet dat ons soms nie die regte keuses gaan maak nie. Soms gaan ons dalk voor die versoekings swig. Soms sal ons die gebakte pere moet vat. Tog kan ons vashou aan die wete dat God ons nooit sal los nie. Ons moet glo dat Hy vir ons deure weer sal oopmaak en as ons dalk nie die oop deure sien nie, soek dan maar vir ’n oop venster om deur te klim. Glo dat Hy vir jou die krag sal gee om deur die lewe te stap. Hou God se hand vas en bly glo. Soos vir Danny, sal God vir jou ook die deur oopmaak. Jou grys overall lê reeds op die stoel.
Om oor na te dink
Hy jy al voor versoekings geswig?
Glo jy dat God jou nooit sal verlaat nie?
Glo jy dat God vandag nog deure en vensters oopstoot?
Gebed
Vader, ek het die boodskap so nodig gehad. Soms voel dit of ek die lewe solo doen. So op my eie. Dit is goed om te hoor dat U ons nooit alleen sal laat nie. Al het ons voor versoekings geswig. Dankie, Vader, dat ek kan glo dat U vir ons deure en vensters oopmaak. Help my om dit raak te sien. Amen