God se Woord in vandag se woorde

Stampe en stote om te leer


Ek het drie keer my arm gebreek voor ek in sub A was. Jy sien, ek was rof en het hoog in bome geklim. Wanneer ’n mens so rof is, klim jy sonder oë en as jy weer sien, het jy op ’n vrot tak getrap en lê jy onder die boom. Met baie pyn … en dan weet jy, dis alweer gebreek.

Na die derde breuk, het dit beter gegaan. Ek het geleer van swaartekrag. Ek het uitgevind dat as jy in die lug is en nie iets het wat jou gewig dra nie, is die kans baie goed dat jy na benede gaan stort. Die kans vir iets breek, is dan redelik groot.

Op ’n manier het die pyn en die ongemak van gips dra deur ’n hele Desembervakansie my geleer wat om te doen en wat om nie te doen nie. Saam met die pyn, het volwassenheid gekom.

Wanneer ons in Jesus begin glo, het ons nie baie kennis van die doen en late van ’n Christen nie. Ons weet nie presies hoe om God met alles te vertrou nie en wil nog baie van die dinge uit eie krag doen.

Ons lees die Bybel, maar baie daarvan is nog net kopkennis. Ons glo nog net gedeeltelik en vertrou nog nie die saligheid heeltemal nie. Op ’n manier is ons nog soos babatjies in die geloof.

Die lewe met sy stampe en stote leer ons om ons onvolwasse geloof agter te laat en na geestelike rypheid te groei. Ons leer wat ons moet doen en waarvan ons eerder moet wegbly.

Soos ek geleer het dat dit nie wys is om in die lug te probeer loop nie en dat swaartekrag hier op die aarde altyd ’n rol speel en aftrek, so moet ek leer watter dinge ek moet doen as kind van God, wat vir my goed is en wat nie.

Hierdie proses is nie kortstondig nie. Dis nie ’n drie-jaar diploma of graad nie. Hierdie is ’n lewenslange proses van uithou en aanhou. Dis eintlik ’n opdrag: 4En die volharding moet end-uit volgehou word sodat julle tot volle geestelike rypheid kan kom, sonder enige tekortkoming.

Die seer van die gebreekte arm het my vinnig gehelp om ’n paar wette van die natuur te verstaan. Net so help seer en swaarkry ons gou om werklik op God te vertrou. Dit leer ons wat ons moet doen en waarvan ons moet wegbly.

Met ander woorde, swaarkry kweek volwassenheid. Ons raak geestelike volwasse en word nie sommer soos ’n brander in die see heen en weer gestoot deur die omstandighede waarin ons nie.

Wanneer ons in moeilike tye is, moet ons net vasbyt en uithou en aanhou. Op ’n manier leer ons hoe om werklik ‘n kind van God te wees. In die proses groei ons tot volwasse kinders van God. Dan sal ons weet hoe om in elke situasie op te tree. Dan sal ons ’n voorbeeld wees vir die mense wat saam met ons die lewe probeer leef en sal ons by ons doel uitkom. En dit is om ’n verskil te maak orals waar ons gaan.

Teks
Jakobus 1:1-8

Om oor na te dink
Hoe taai is jy met die stampe en stote?
Verstaan jy hoekom dit gebeur?
Hoe lank kan jy uithou?

Gebed
Vader, my geloof is maar nog in sy kinderskoene, of so voel dit gedurig. Vader, ek vat die houe nie so maklik nie. Ek wil eintlik opgee. Help my om tog meer volwasse te raak en volwasse op te tree. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek