Statistiek: My moeder ook vermoor
(Ek skrik toe ek vroeër die week die opskrif van dié Kruispad-skryfstuk, wat ek ’n jaar gelede al geskryf het, sien. Want sien, dis my niggie wat ons vanoggend in Wellington begrawe het. Vier kinders se moeder wat verlede week sommer so vermoor is. Ons staan die afgelope paar kere stil by vergifnis en al wat ek in alle eerlikheid kan sê, is: Hoe nader dit aan jou eie lyf kom, hoe moeiliker raak die vergifnis-ding.)
Ek sukkel nog met die vergewe teks: 32Behandel mekaar mooi en goed. Laat dit vir ander lekker wees om by julle te wees. Sien mekaar se foute oor net soos God julle foute oorgesien het omdat julle Jesus s’n is.
Ek leer ’n les by Sarie. Met genade van Bo het sy dit reggekry:
Ek was ook deel van die statistieke, my moeder is ook vermoor op ’n plaas in 2000. My eerste gedagte: Hoe mal kan ’n mens wees om ’n dame van 70jr te skiet met ’n .303 jaggeweer vir R20.00 rand? My moeder is op 12 September 2000 vermoor, hulle het eers ’n week later op haar lyk afgekom. Presies ’n week later is hulle aangekeer.
Nadat ek tot my sinne gekom het, het ek vir Jesus geroep en vir Hom gevra, “VADER, VERGEWE HULLE EN LAAT REGVERDIGHEID GESKIED”. Ek het hulle vrygespreek en vir hulle gebid, hoewel ek hulle nooit ooit gesien het nie.
Vandag, as ek terugdink, besef ek, ek het myself losgemaak van haat en daarom is ek ’n wenner. God se Gees het my gelei om sy wil te kon doen. God het my vergewe.
Doreen Joubert skryf die aangrypende gedig:
VERGEWE
Hoe lank nog wil ons die pak saam met ons dra?
Sonder om daaraan te dink om vergifnis te vra?
Hoe lank nog gebukkend gaan en aan die verlede vasklou
Hoekom toelaat dat hierdie dinge jou van God af weghou.
Die Here wil die regte jy voor Hom sien
Jy wil Hom tog in Gees en waarheid dien
Hoe kan jy as daar nie vergifnis in jou lewe bestaan
Of wil jy vir die res van jou lewe so aangaan
Maak skeiding tussen liefde en haat
Breek af die mure wat skeiding veroorsaak
Begin om te vergewe, los die verlede waar dit hoort
Beskou dit as afgehandel, beskou dit as dood
Breek oop, breek af en vergewe jouself
Vergewe dan almal al moet jy ver gaan delf
Begin by die begin en werk stap vir stap
Ek weet dit maak seer — dit is geen grap
Maar as jy klaar vergewe het is jou las lig
Dan kan jy weer iemand anders stig
Die Here sal wel iemand na jou kant to lei
Sodat jy weer jou aandag aan hulle kan wy
Dalk moet jy aan hulle jou storie vertel
Hoe jy sonder vergifnis gelewe het in hel
Jy wou nooit vergewe nie en het jou hart verhard
As jy dié mense teëkom dan kyk jy ander pad
Vergifnis het die Here ons geleer
Ten tye van Sy eie smart, pyn en seer
Wie is ons as mens om nie te vergewe
Is ons dan bokant die opdrag van Jesus verhewe?
Nee duisend maal Nee
Jesus het ons ’n mooi voorbeeld gestel
Ons kan regtig al ons seëninge tel
Vergewe, vergeet dis wat Jesus van ons vra
Hy sal ons dan verder vorentoe dra.
Ek lees ’n paar stukke van myself raak in die gedig. Dan sukkel ek nie alleen met die vergewe-ding nie…
Teks:
Om oor na te dink
Hoe dik loop jou liefde?
Weet jy dat God jou vergewe?
Wie moet jy vergewe?
Gebed
Vader, U vergewe my vir alles wat ek aan U bely. Ek moet aanhou vergewe, maar hoe? Hoe kry ek die wraakgevoelens enigsins uit my uit? Hoe kan ’n mens net so vergewe? Help! Amen