Status: Ek glo in God
Ek het ’n goeie vriend in Gauteng. Hy sê altyd dat as hy my in ’n gehuurde kar daar vang, gaan hy my foeter. Dit lyk omtrent soos ’n fliek as hulle met die twee groot karre agtermekaar daar by die lughawe ingery kom. Die voorste drywer spring uit, ek gooi my tas agterin, spring agter die stuur in, waai en trap die petrol diep weg.
My vriend is ’n baie suksesvolle sakeman en het hard gewerk om ’n groot besigheid staan te maak, wat vir ’n groot aantal gesinne elke aand ’n lekker groot bord kos op die tafel sit.
My vriend se status op sy foon is: “I believe in God.” En almal kan dit sien. Hy leef God orals waar hy gaan. Ja, soms het hy ook al die grense getoets en daaroor geval, maar elke keer het hy teruggekom, want Hy glo in God.
My vriend weet waar sy ware geluk vandaan kom. Hy weet dat al het hy baie in die lewe vermag en al het hy baie, is daar net een plek waar vrede te vind is en dit is by God. Die res van die goeters hier op aarde is eintlik net ’n geraas.
My vriend weet wat by God tel en dat aardse besittings nie deel daarvan uitmaak nie. Inteendeel! Die dag as jy jou kop die laaste keer hier op aarde neerlê, bly alles wat ons bymekaargemaak het, net hier.
Ek leer baie by my vriend.
Dis so jammer dat ’n groot gedeelte van ons mensdom teen die verkeerde bome staan en blaf. Van jongs af wil ons ’n mooi kar met lekker tekkies op ry. Ons wil ’n mooi eggenoot hê. Ons wil ’n spoggerige huis hê. Ons wil selfs dalk êrens op die verhoog staan, waar mense vir ons ’n staande applous kan gee. Dis ons drome wat ons droom.
En hiermee is niks verkeerd nie. Jy kan ’n groot kar ry en in ’n huis met te veel kamers bly. Jy kan elke aand voor duisende mense op ’n verhoog op en af spring en die mooiste gesig langs jou in die bed hê. Jy kan vir seker die lewe ten volle geniet en elke dag alles in die rooi druk, maar dit het niks te doen met vrede of ware vreugde nie.
Vra maar die mense wat alles het, maar nie vir God nie. Hulle soek net nog meer, nog groter, nog beter. Ek vermoed dis waarom baie bekendes op die ou end ook die wit goeters wat in strepies lê, probeer. Om net nog ’n groter skop in die lewe te kry, maar môreoggend is hulle weer terug op die “Begin Hier”-blokkie.
Luister mooi na die ene: 9… Die rykes in die groot huise moet weet dat die status wat geld gee, nie by God tel nie.
Nee, met rykdom self is daar nie fout nie, ons moet net sekermaak dat ons nie verblind word en vir God langs die pad mis nie. Geniet wat jy het ten volle en maak seker dat jou status op jou foon en die res van jou lewe vertel: Ek glo in God!
Teks
Jakobus 1:9-11
Om oor na te dink
Waaraan hou jy vas?
Waar maak jy goeters bymekaar?
Waar kry jy jou waarde?
Gebed
Hemelse Vader, help my asseblief om nie myself met die mense om my te vergelyk nie, maar te onthou wat by U tel. In Jesus se Naam. Amen.