Stof afskud, omdraai en weg stap
Ek wil nie oor die volgende twee verse skryf nie. Dis nie lekker om ’n ou in sy dinges in te stuur nie. Ek kry dit nie lekker reg om die stof van my skoene af te skud, om te draai en iemand net so te los om op sy eie te vergaan nie. Dis vir my so wreed en eintlik so teen God se boodskap van liefde.
Maar Paulus is baie ernstig hieroor:
10Loop lig vir daardie mense wat moeilikheid maak. Sê vir hulle om op te hou daarmee. As dit nie help nie, gaan probeer ‘n tweede keer. Maar daarna moet jy hulle uitlos. 11Dan weet jy dat hulle hul nie aan God steur nie. Hulle eie sondes sal op die ou end teen hulle tel.
Dis hartseer om te besef dat sommige mense net te hardekop is om te luister. Die muur wat die mense om hulle opgerig het, is eenvoudig net te hoog om oor te loer en ’n glinstering van die verlossing raak te sien.
Dis nog meer hartseer om te besef dat medegelowiges en geloofsgemeenskappe dikwels die oorsaak was dat mense mure om hulle opgerig het.
Ek is op Facebook vriende met ’n paar ouens wat vir die kerk gewerk het. Ek vermoed hulle het daar seergekry. Hulle spoeg vuur as iemand net iets noem van die kerk of Christene. Hulle lag vir die kerk en spot baie hard saam met die ander.
My hart kreun as ek dit sien.
Ek wonder hoeveel damme vol trane het God en Jesus nie al vol gehuil vir die kinders wat hulle rug op die Almagtige draai nie.
Dan is dit nog moeiliker om hulle net uit te los. En tog, in my agterkop weet ek dat dit niks sal baat dat ek ’n koffie-afspraak met hulle maak nie. Hulle sal my rol met hulle slimmigheid. Ek weet dit.
Ek raak stil terwyl ek hier skryf en laat sak my kop. Ek bid vir dié Facebook-maatjies van my. Ek bid vir hulle, want ek weet nie wanneer laas het iemand vir hulle gebid nie. Dalkies, ja dalk net, steek daar êrens ’n stukkie lig deur en sien hulle weer …
Ek weet Paulus praat die waarheid hier. Ek weet daar kom ’n tyd wanneer ’n mens die streep in die sand moet trek, omdraai en wegloop. ’n Tyd waar dit net tydmors sal wees om iemand verder op die regte pad te probeer help.
Maar hy sê niks daarvan dat ons moet ophou bid nie. Ek glo regtig in gebed. Ek glo dat God se Gees kragtig is. Ek glo dat God vandag nog deur sy Gees hier op die aarde woel. Daarom hou ek aan om te bid, ook vir die van wie ek die stof van my voete moes afskud, my rug moes draai en wegstap …
Teks
Tit 3:8-11
Om oor na te dink
Is daar mense in jou lewe wat weier om te glo?
Bid jy vir hulle?
Wys jy Jesus vir hulle?
Gebed
Vader, my hart is so seer vir die mense wat hul rug op U draai. My trane loop vir die mense wat lag en spot. Ek bid vir hulle. Ek hoop vir hulle. Ek droom dat daar êrens ’n stukkie lig vir hulle sal deurbreek. Amen.