Stof jou kennis van Jesus af
Deesdae is dit so maklik en goedkoop, en in sommige gevalle sommer verniet, om ’n bietjie verder te studeer. Ek het besluit om so ’n aanlynkursus te loop. Aangesien ons deesdae preke opneem, het ek besluit om ’n videografiekursus te loop.
Ek moet sê dat die kursus, wat oor 32 weke loop, nogal baie inligting oordra en ek leer ’n hoop nuwe goeters. Ek vermoed ons opnames sal soos die kursus vorder, aansienlik verbeter.
Tog is daar ’n klomp van die kennis wat ek reeds weet. Die kursus stof dit so ‘n bietjie af en plaas dit weer vir my in perspektief. So het ek byvoorbeeld ’n idee gehad dat ’n film maar eintlik net ’n groot aantal foto’s is wat vinnig verby jou oë glip.
Ek het dit egter nie dit in diepte verstaan nie. Maar nou dat die kursus dit weer onder my aandag gebring het en dit ’n bietjie duideliker gemaak het, kan ek die volgende opnames beter opstel. Ek verstaan nou presies hoe dit werk en ek kan ’n beter instelling op die kamera maak.
Om werklik ’n goeie produksie te maak, is dit belangrik om presies te verstaan hoe die dinge van film maak, werk.
Net so weet ons ’n klomp dinge van ons geloof. Ons ouers het dit al van jongs af vir die meeste van ons met ’n lepel ingevoer. Maar omdat die wêreld ons besig hou, omdat ons in sommige gevalle al ons energie gebruik om te oorleef, vervaag die kennis. Wanneer ons dan by ’n krisis kom, maak ons bokspring besluite. Ons maak nie gebruik van die bestaande fondasies in ons geloof nie, omdat ons dit eenvoudig vergeet het.
Soms soek ons by verkeerde plekke om hulp en sulke hulp kan ons nie op die regte plek uitbring nie.
Dit is belangrik om 100% te verstaan wie Jesus is en waar Hy is en wat Hy vir ons doen. As ons dit presies verstaan, sal ons krisisse in ons lewe makliker vir ’n ses kan slaan.
1Wat ek wil sê, is dit: ons het die wonderlikste Hoëpriester denkbaar. Hy sit op die ereplek langs die magtige God self.
Dis ’n eenvoudige waarheid, maar sê so baie. Jesus se taak is suksesvol afgehandel. Dit is onbetwisbaar dat Hy die finale offer, Homself, gegee het om in die mens se plek te sterf.
Vat hierdie waarheid en sit dit in jou pyp.
Weens hierdie groot reddende daad, het God Jesus ’n ereplek gegee – reg langs Hom. Aan Sy regterkant, wat beteken dat Hy verhoog is tot die hoogste, vernaamste plek in die heelal.
Jesus is hoër as enige van die priesters wat al ooit geleef het. Die offer wat Hy gebring het, was nie soos die vorige priesters nie. Sy offer is deur God aanvaar en was genoeg.
Jesus het nou al die mag en krag oor die hemel en die aarde en kan daarom almal red en verdedig wat deur Hom na God toe kom.
Dis ons Jesus daai. Ons Jesus is groot en sterk en magtig, soveel meer as die krisis wat nou op jou bord is. Daarom, draai na Hom, gaan sit by Hom waar Hy reg langs God sit. Hy sal jou help. Hy het jou al daar by die kruis gered. Hy sal jou nou weer red en môre weer. En die dag daarna weer.
Stof hierdie eenvoudige waarheid af. Maak dit weer vir jouself duidelik en hou dit naby aan jou hart vir wanneer jy dit weer nodig het.
Teks
Hebreërs 8:1-6
Om oor na te dink
Hoe lyk jou kennis van Jesus?
Is dit jou kragbron?
Maak jy Hom genoeg deel van jou lewe?
Gebed
Jesus, U sit daar langs God. U is in beheer van alles en tog kan ek by U uitkom. Kan ek met U praat. Dis so WOW! Dis eintlik te groot vir my om die hele prentjie te sien. Help my om my kennis oor U af te stof en U deel te maak van my hele dag. Amen.