Stoom afblaas in die stoomkamer
Ek sit moeg in die stoomkamer na ’n goeie workout. Ek is tevrede met my dag se pakkie oefening en kom sweet gou die laaste stukkie overdaad van die naweek uit. Ek weet nie eintlik of dit werk nie, maar om so te sit en sweet vir niks doen nie, laat my goed voel.
Terwyl ek nog so sit, kom twee jong dame-studentjies by die stoomkamer in. Hulle praat sonder ophou – die een sommer bo-oor die ander. Ek wonder hoe hoor die een die ander as hulle so saampraat. Hulle praat hard en gee nie om vir my wat in die hoek sit nie. Hulle taalgebruik glad nie keurig nie – inteendeel. Wat sy met haar vriend, wat haar die naweek gedrop het, gaan doen, kan ek nie verwoord nie. Ek ken nie eens van die woorde nie, maar ek vermoed dat dit nie woorde is wat ek hier moet herhaal nie. Eintlik soek ek die language knoppie, soos op die DSTV remote dat ek dit kan oorskakel na family om die vloekwoorde uit te vee. Sjoe, die f-woord sny skerp deur ’n mens.
Toe ek later in die stort staan, wonder ek hoekom ek niks gesê het nie. Nee, ek hoef nie gepreek het nie, want daarvoor was hulle ore glad nie oop nie. Maar ek kon iets van Jesus se omgee daar ingebring het. Soos toe Jesus by die put gesit het en die straatvrou daar aangekom het. Hy het nie met ’n stok of klip in die hand gestaan nie. Nee, Hy het na haar gekyk met ’n liefdesbril en haar mooi reggehelp.
Eintlik het die twee meisietjies in die stoomkamer net kom stoom afblaas oor ouens wat met hulle mors. Ja, hulle het dit nie mooi verwoord nie, maar eintlik het hulle hier tussen al die stoom hulle dors kom wys vir liefde. En ek sit daar en ek weet van alles en ek sit tjoepstil en eintlik vererg ek my in plaas van empatie en huil saam met ander omdat die lewe so met hulle mors.
Een van die twee se vriendin druk haar kop by die deur in. So ’n borrelende bytjie. En in die paar sekondes wat sy daar inloer, bring sy ’n gawe geur. Toe sy weer uitglip, sê die ander vriendin: She seems like a nice girl. Ja, sê die vriendin, sy is en brei uit hoe groot die invloed van die klein meisietjie in hulle koshuis is.
Ek vermoed Paulus sou ook die liefde van Jesus in die stoomkamer ingebring het. 13Die Heilige Gees werk deur ons almal. Dit is Hy wat ons laat glo. Ons doen daarom maar net wat een van die psalms sê: “Omdat ek in God glo, praat ek oor Hom.” Ons glo in Jesus; daarom is ons ook bereid om oor Hom te praat.
So ’n wakkermakertjie vir my en dalk vir jou. Die Gees is mos in ons elkeen wat glo. Hy gee ons die gesag en kennis om Jesus in ander mense se lewens te bring. Die vraag is of ons dit doen.
Dalk moet ons ’n bewustelike keuse maak om oral waar ons gaan vir Jesus saam e neem. Om die Gees te vra om daar waar mense in die stoomkamers van die lewe probeer stoom afblaas die liefdesbril van Jesus op ons neuse te sit. Om die Gees te vra om ons te help om nie saam klippe te gooi en betrek te word by praatjies wat net verwoesting saai nie. Nee, dat ons werklik ’n positiewe impak in mense se lewens sal hê. Dan sal mense sê: She/He is a really nice person. Nie omdat jy so goed is nie, maar omdat die Gees deur jou werk.
Om oor na te dink
Werk die Heilige Gees deur jou?
Hoor ander Hom deur jou?
Ervaar hulle Hom deur jou?
Gebed
Here, gee my die moed om oor U liefde te praat oral waar ek gaan, selfs daar waar mense stoom afblaas en ek so maklik kritiseer. Help my om ’n nice mens te wees. Amen