God se Woord in vandag se woorde

Stop die trein


Binne drie verse herhaal die skrywer van Hebreërs dieselfde boodskap drie keer: 5Maar daar staan tegelyk ook dat mense wat nie na God wou luister nie, nie vir ewig saam met God sal rus nie. 6Hoe moet ons dié twee uitsprake verstaan? Twee dinge staan vas: daar is nog mense wat vir ewig saam met God sal gaan rus, maar daar is ook mense wat nie vir ewig saam met God sal rus nie. Dit is daardie mense wat wel God se boodskap gehoor het, maar nie wou doen wat Hy van hulle gevra het nie.

Hy is baie ernstig hieroor en hy sal dit aanhou sê, totdat die mense die eenvoudige boodskap verstaan. Daar is ’n verskriklike groot belofte: As jy in God glo en soos ’n kind van God leef, gaan jy die ewigheid met God in.

Maar ongelukkig is die teenoorgestelde ook waar: Daar wag vir jou ’n verskriklike tyd as jy nie in God glo nie. Jy gaan die ewigheid leef op ’n Godverlate vlakte. Op die vlakte waar God nie is nie, heers die bose en hier is geen genade nie. Hier is geen regverdigheid nie. Hier is geen reg nie. Genot word uit pyn gekry. Vreugde is daar nie te vind nie. Net pyn en seer en swaar.

As jy nou hier lees, veronderstel ek dat jy in God glo en deel is van die groep wat vir ewig saam met God gaan lewe. Ek sien so uit daarna om in rus en vrede, vir ewig aan God se tafel te sit.

Die probleem is dat die mense wat deel is van die tweede groep en op pad is na die ewige hel, nie hier gaan lees nie. Hulle sien geen sin daarin om van God en Sy wêreld en die ewigheid te leer nie.

Dis sleg om te dink dat hulle heeltemal op die verkeerde pad is. Dit is sleg om te weet dat mense baie naby aan ons op die pad is en nie eendag saam met ons die lekker ewige ingaan nie.

Jare gelede het ek die aangrypende film, Auschwitz, gekyk. Ek kan nou nog onthou hoe ek daarna gevoel het. Naar. Die mense wat soos diere op treine gelaai is en in hordes in oonde verbrand of in kamers vergas is. 1,1 miljoen mense.

Ek het die heeltyd gewonder of daar nie iemand is wat kan opspring en die treine stop nie. Was daar dan nie een man of vrou wat iets kon doen om te keer dat die mense so na hulle dood aangery word nie? Ek wonder wat sou ek gedoen het? Sou ek ook na die ander kant toe gekyk het?

Vandag loop daardie trein nog steeds. Mense besluit self om op die trein te klim na hul ewige dood. Mense steur hulle nie aan die boodskap van die ewige rus, ewige vrede en ewige lekker by God nie.

Hulle kies doelbewus daarteen. Hoekom wonder ek? Hoekom sal ’n mens nou kies vir die ewige hel? Ek vermoed dit is omdat hulle nie lekker weet wat hulle kies en waarheen hulle op pad is nie. Hulle dink die lewe gaan net oor nou. Hulle weet nie van die lewe hierna nie.

Ek het ’n sterk vermoede dat dit my en jou roeping is om hulle hiervan te vertel. Dis my en jou werk om voor die trein in te spring …

Teks
Hebreërs 4:1-6

Om oor na te dink
Besef jy wat jou roeping is?
Wie ken jy wat op die verkeerde trein is?
Wat doen jy daaraan?

Gebed
Vader, my hart bloei. Daar is soveel mense op die trein na die ewige verderf. Selfs mense naby aan my, maak dit nie. Help my om so te lewe dat dit hulle van die trein af lok. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek