God se Woord in vandag se woorde

Stuur ’n boodskap


Ek onthou nog die dae toe ek in die weermag was. Soms was daar lekker tye, maar ander tye was die verlange erg. Dan was die beste medisyne ’n brief uit die States, dis nou hoe ons daar op die grens van Suid-Afrika gepraat het. Dit was al kommunikasiemiddel. Wel … die parfuum wat die skryfsters gebruik het om die brief te bespuit, het nóg ’n storie gedra …

In Paulus se dae was dit nie veel anders nie. Al manier hoe jy met ander kon kommunikeer, was per brief. Vir alles wat hy wou sê, wanneer hy mense wou bemoedig, wanneer hy vir ander deur krisisse wou help, moes hy die pen optel. En dankie tog hiervoor, want tot vandag toe het miljoene al by sy briewe baat gevind.

Neem nou maar die kort briefie wat Paulus vir sy tjommie, Filemon en ander skryf. Dis ’n brief waarin hy sy vriende vertel wat die regte ding is om te doen. Op ’n liefdevolle manier, spoor hy hulle aan om mekaar te help.

1Ek skryf hierdie brief aan jou, Filemon, my liewe vriend wat saam met my in die Here se diens staan. 2En ook aan Affia, ons suster in die Here. En aan Argippus, wat hard saam met ons veg in die Here se werk.

Vandag is daar soveel makliker maniere wat sommer vinnig of dadelik werk. Dis nie soos ons briewe in die weermag wat maande gevat het om by ons uit te kom nie. Nee, ek kan nou ’n e-pos skryf en die stuur-knoppie druk, dan is dit onmiddellik by die persoon. Of by die grappie wat ek op WhatsApp gekry het, kan ek net forward druk, my vriend in Australië se naam kies en oombliklik is dit duisende myle anderkant die wêreld.

Ek weet nie lekker hoe dit werk nie, maar ek weet dit werk, want binne sekondes kom daar ’n hoop smileys teruggevlieg.

Ek besef maar net hoe gelukkig ons is om sulke kommunikasiestelsels te hê. Weens die groepies weet ons baie meer van mekaar. Ek, my broer en susters is daagliks met mekaar in geselskap. Ons vriendegroepies weet presies wat in mekaar se lewens aangaan en ja, skoonma is nou meer op my case!

En ek wonder hoe mal sou Paulus nie gegaan het met sulke wonderlike kommunikasiestelsels nie. Hoeveel hordes mense sou hy nie dadelik kon bereik wat hy kon moed inpraat, begelei, waarsku en sommer net gesels nie.

Maar hy het sy kans gehad. Dis nou ons beurt om in ander mense se lewens ’n verskil te maak. Dalk wonder jy wat jou doel op aarde is. Dalk wonder jy wat jou gawe is. Dalk is dit jou roeping om jou vriende en familie te help, te bemoedig en selfs te waarsku met ’n boodskappie via WhatsApp, Messenger of een of ander kommunikasiemiddel.

Ek weet jy dink dadelik aan die stortvloed van boodskappe wat ons elke oomblik van die dag kry, en ja, dis eintlik te veel. Maar dalk is jy die een waarna jou vriende en familie sal luister. Jy kan die een wees wat die ander se seer en nood raaksien en wat op net die regte tyd die bemoediging kan deurstuur.

Wees altyd selektief met jou woorde, prentjies en video’s. Respekteer ander se tyd. Wees sensitief vir die Heilige Gees se stem. Moenie bang wees nie en maak ’n verskil in ander se lewens deur op die regte tyd die regte boodskap te stuur.

Teks
Filemon 1:1-3

Om oor na te dink
Moet jy dalk êrens iets skryf?
Moet jy dalk vir iemand ’n boodskap gee?
Moet jy dalk die Evangelie met iemand deel?

Gebed
Vader, ek weet ek het ’n verantwoordelikheid en ’n roeping om as Christen reg te lewe. Ek weet U het my geroep waar ek nou is. Help my om op te staan en te praat oor U, orals waar ek gaan. Ek wil U verlossing gaan uitdra, want daar is so baie wat dit nodig het. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek