God se Woord in vandag se woorde

Swaar leer gehoorsaamheid


Jesus is ons broer en die een wat voor stap. Hy wys ons hoe om die pad van die lewe vandag te stap. Een van die grootste lesse wat ons kan leer, is dat Jesus 100% gehoorsaam was en presies gedoen het soos God se opdrag aan Hom was.

Jesus het baie swaar gekry toe Hy die Via Dolorosa moes stap. In ’n stadium wou Hy ’n kortpad vat, maar het op die ou end deurgedruk en gehoorsaam gebly en die swaar pad gestap.

8Al was Jesus sy Seun, het Hy ervaar wat dit beteken om regtig gehoorsaam te wees deurdat Hy na God bly luister het, al het dit met Hom hoe swaar gegaan.

Jesus het natuurlik geweet wat gehoorsaamheid is. Maar deur die stap van Sy mensepad hier op aarde, het Hy dit aan Sy lyf gevoel. Hy weet hoe moeilik dit is om gehoorsaam, die hele pad tot op die einde deur te worstel.

Die beker wat Jesus moes drink, was baie erg. So erg dat Hy in ’n stadium vir God gevra het of die beker nie maar eers verby Hom kon gaan nie. Jesus byt egter vas en die uiteinde is ’n sprokieseinde vir elke sondaar.

Hier op aarde gaan dit baie keer swaar. Dinge loop nie soos ons wil hê dit moet nie. En dit is baie keer in die swaar waar ons die goedkoper planne, wat dalk nie so heeltemal suiwer is nie, wil implementeer.

’n Vriend van my se besigheid kry baie swaar. Dit is eintlik op die einde en hy staan met die handvatsel in die hand om die deure toe te maak. Daar glip iemand in en bied hom ’n groot kontrak aan. Die kontrak sal sy besigheid red en na ’n volgende hoogte neem.

Hy kan die kontrak nou kry, maar dan moet my vriend die kliënt se suster aanstel. Dis nie ’n maklike besluit nie. In die kontrak is daar oorgenoeg vir hom en die aanstel van die persoon se suster, maar is dit reg?

My vriend het lank geworstel met hierdie tameletjie en op die ou end nie die kontrak gevat nie, want hy het geglo dat dit oneerlik is. Deur hierdie stuk swaar het my vriend geleer om werklik gehoorsaam te wees en binne God se voorskrifte te lewe.

God gebruik baie male die omstandighede waarin ons is, om ons te vorm. In swaarkry word ons ook getoets of ons geloof rêrig is. As ons gedruk word dat ons oë traan, bly ons steeds getrou?

Ek wil jou aanmoedig om in alle dinge gehoorsaam te bly. Selfs al druk die lewe jou dat jy voel jy bars uitmekaar, bly gehoorsaam. Dan is God aan ons kant. Of nee, dan is ons aan God se kant. Dan is ons naby Hom dat Hy ons deur die swaar kan help. Deur ongehoorsaamheid kap ons God se hande af om ons te help.

Kom ons maak ’n punt daarvan om ’n die klein dingetjies, maar ook die groot dinge presies te doen soos God ons lei.

Teks
Hebreërs 5:7-10

Om oor na te dink
Leer jy uit jou swaar?
Waar moet jy nog werk aan gehoorsaamheid?
Waar moet God help?

Gebed
Vader, dit is nie maklik om in alle situasies gehoorsaam te bly nie. Ek wil graag meer gehoorsaam wees, Ek wil graag meer doen soos U wil hê ek moet doen. Help my om ywerig te wees om te leer om meer gehoorsaam te wees. In Jesus se Naam, amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek