God se Woord in vandag se woorde

Swaar maak spiere


Ek kan so identifiseer met Mel (skuilnaam). Dalk jy ook? Sy skryf:

Ek voel die afgelope paar weke so asof alles net skeefloop en niks uitwerk nie. Dit voel asof ek al moeilike tye agter die rug het, maar dit waardeur ek nou gaan, vat die koek.

Ek weet ek sal hierdeur kom, maar ek weet nog nie hoe nie. Ek het gemengde gevoelens dat dit gaan regkom, maar wanneer?

Dis selfs moeilik vir my om met die Here te praat. Want hoe kan ek al die negatiewe dinge in my lewe sien en steeds glo dat dit positief sal uitdraai?

Ek raak deesdae so maklik swak. Seker omdat ek nie in ‘n goeie, positiewe spasie is nie. Ek het nie genoeg wysheid om my spiere te sien nie. Ek vertrou God, maar ek is verskriklik swak.

Daarom bid ek hierdie gebed:
Dis nie altyd vir my maklik om te verstaan hoekom ek deur al die swaar moet gaan nie. Ek weet in my kop dat U alles sal laat uitwerk, maar ek kry swaar, verskriklik swaar. Ek wou maar net dit sê. Amen.

En so staan ons almal nou en dan voor ’n afgrond en ja, ons kort wysheid, ons kort krag om voort te beur en ons sit met ’n hoop vrae vir God. Die een hoekom ná die ander word in die donker afgevuur.

Oor wat presies die rede is hoekom die swaar ons tref, is daar nie altyd ’n antwoord nie. Ons kry wel een of ander tyd duidelikheid wat God met die swaar in ons lewe wil en kan doen.

By ons kampplek aan die einde van die jaar, ry ’n klompie van ons gedurig fiets. Daar is baie mooi paaie en berge en bosse om in te ry. Maar elke keer as ons wil gaan ry, moet ons eers teen ’n 8km pas uitbeur.

Ek hou nie daarvan nie. My bakwerk is mos te swaar vir die chassis. Dit neem omtrent ’n halfuur voordat ek bo by die pas uitkom. Maar wanneer ek my asem terugkry, geniet ek die mooie natuur.

Dan kom ek later agter dat die gestoei teen die bult al hoe korter word. Dis omdat ek fikser begin word en my spiere beter begin werk.

Dis wat swaarkry doen. God gebruik die swaarkry om ons sterker te maak. Hy gebruik die swaar in ons lewe om af te kap wat nie pas in die prentjie wat Hy van ons het nie. Ja, ek weet ’n mens wil dit nie hoor wanneer dit swaar gaan nie, maar kyk maar hoeveel sterker het jy uit die gemors gestap en hoeveel meer wysheid het jy bymekaargemaak.

Dis soos goud, né. Ons weet mos dat goud baie warm gemaak word om ontslae te raak van al die vullis. Hoe warmer dit gemaak word, hoe meer vullis word uitgebraai, hoe suiwerder is die goud.

Selfs die Bybel gebruik die voorbeeld.

7… Kom ons neem goud as voorbeeld. Geld wat van goud gemaak is, hou natuurlik nie vir altyd nie. Tog doen mense moeite om dit in ’n baie warm vuur te sit om so al die vuiligheid wat in die goud vassit, weg te smelt. So is dit met die geloof ook. Dit moet getoets en suiwer gemaak word.

Teks
1 Petrus 1:6-9

Om oor na te dink
Hoeveel swaar het jy al gedra?
Was God daar?
Wat het dit aan jou gedoen?

Gebed
Vader, ek sleep soms nog swaar en ja, dan wil ek al my speelgoed uit die kot gooi. Ek weet dit maak my sterker. Ek weet U gebruik dit om my te vorm, maar, ai, gee my net genoeg krag om daardeur te beur. Ek vra dit in Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek