God se Woord in vandag se woorde

Swaar word lig


Uit my manier van die lewe leef is daar ’n spreekwoord gebore: Ek wens ek kon so naby aan die Here leef in die goeie tye, soos wat ek in die swaar tye leef, want dan was die swaar tye nie nodig nie.

Die spreekwoord is seker nie op almal van toespassing nie, maar ek weet in swaar tye is ek baie nader aan die Here. Die goeie tye sleep ’n mens weg van die Here en dis nie lank nie, dan sukkel dit maar om die lewe reg te loop. Ware vreugde en vrede raak dan ook soek.

Ek verstaan nogal die teks, want ek ervaar dit aan my bas: 3… As dit met julle sleg gaan, leer julle juis om nader aan die Here te leef.

’n Mens het meestal nie beheer oor die swaar en sleg nie, maar as ons dit reg hanteer en die met die regte houding takel, kan en sal dit ’n positiewe invloed op ons lewens hê.

Hoe hanteer jy die swaar seisoene in jou lewe? Kom jy in opstand? Dryf jy maar net saam met die stroom of kyk jy wat jy daaruit kan baatvind? Ja, dit is nie maklik nie en nog minder lekker, maar ons moet weet dat God niks met ons sal laat gebeur wat ons nie kan hanteer nie.

Ons moet in die swaar op God vertrou en weet dat Hy ook alles ten goede sal laat meewerk. Een van die spin offs van swaar, is dat ons soos ’n magneet aan God vasklou en ons ore weer oop is om Sy stem te hoor.

Maar daar is meer – ons leer om uit te hou en te volhard. Ons geloofspiere raak sterker en so het ons meer krag om vaster aan God te klou. Dan kan die golwe van die lewe maar slaan. Dit sal ons nie uit God se hande ruk nie.

Die lewe kan ons soms hard rondruk. Wanneer die vlae aanvalle en uitdagings om ons waai, kom daar tye wanneer ons voel ons kan nie meer nie. Dit voel of ons krag nou net op is. Maar gelukkig, omdat ons toegelaat het dat die vorige uitdagings ons sterker maak, kan ons vasklou en uithou.

Daar is baie mense daar buite in die wêreld wat eenvoudig net té platgeslaan is om op te staan. Kom ons wees eerlik met mekaar, almal het dit nie maklik nie. Daar is baie wie se geloof aan ’n dun draadjie hang, omdat hulle eenvoudig net nie meer vir God kan sien en ervaar nie. Hulle is baie na aan moed opgee.

Dis hier waar ons moet ingryp. Dis hoekom ons daar is. Dis hoekom ons self in ’n stadium deur swaar gegaan het. Dis juis een van die redes hoekom ons geloofsarms sterker en meer gespierd geword het. Sodat ons die wie se geloof pap is, met ons arms hoog kan hou.

Ons kan hulle bemoedig en vir hulle sê om net uit te hou. Ons kan hulle wys waar die volgende stap is. Ons kan hulle hoop gee. Ons kan hulle moed inpraat en vertel hoe ons dit gemaak het.

Swaar tye hou ons nie net nader aan God nie, maar laat ons uithou en aanhou om so ander ook op die pad te hou. Glo dit. Onthou dit wanneer swaar weer aan jou deur kom klop. Só bring die swaar ons in die lig.

Teks
Jakobus 1:1-8

Om oor na te dink
Hoe maak jy met jou swaar?
Kan jy terugstaan en weet dat dit jou help om te volhard?
Wie is daar wat jy moet help deur hul swaar?

Gebed
Vader, ek weet dat U my sterker maak deur die swaar. Ek weet dat dit my help om uit te hou en aan te hou. Maar soms sukkel ek. Gee my krag om deur te beur en ook ander langs die pad te help. In Jesus se Naam. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek