Swem in vrede en genade
Baie keer lees ons die Bybel so vinnig dat ons nie alles raaksien nie. Baie keer wil ons net aan die einde kom, maar in die proses mis ons ’n klomp goeters. Neem nou hierdie derde laaste vers van die hele Galasiërs brief. 6God gee aan hulle almal sy vrede en genade.
Dit is ’n seëning wat Paulus oor die mense van Galasië uitspreek. ’n Seëning wat Paulus uitspreek oor die mense wat glo in Jesus Christus en dat Hy, deur sy sterwe aan die kruis, vir ons sondes betaal het en dat dit genoeg is. Paulus spreek dus die seëning uit oor ons almal wat in Jesus glo.
Wat is ’n seëning? Volgens die woordeboek is ’n seëning: A prayer asking for divine favour and protection. Paulus bid tot God en vra dat God sy hand van bewaring oor ons sal hou. Dat God ons sal beskerm teen gevare, maar meer nog – dat ons vrede en genade sal ontvang.
Ja, ons het van albei so baie nodig. In ons gejaagde lewe, waar ons nie genoeg tyd maak om by mekaar uit te kom nie, vlieg vrede gou by die deur uit. Ons is onder druk om die volgende hekkie oor te kom. Ons is onder druk om te perform. Ons is onder druk om die lewe wat ons vir onsself staangemaak het, se pas vol te hou en dan sukkel ons om in die gejaag stil te sit en by vrede uit te kom.
Ware vrede kom van God af. Onthou: Jesus het die oorlog tussen ons en God kom klaarmaak. Jesus het die oorlog vir ons gewen deur te sterf aan die kruis. Jesus het die vrede tussen ons en God bewerkstellig. Die gejaag van die dood is weg. Ons hoef nie meer bang te wees nie. Daar heers nou vrede.
Die vraag is of ons vrede ervaar of jaag ons so rond dat vrede die heeltyd opsoek bly. Daarom bid Paulus dat God ons sal beskerm en vir ons vrede gee.
Maar ook vir genade. Mag God ons hope en hope genade gee. Ons het dit so nodig! Ons kan nie betaal vir dit wat ons verkeerd doen nie. ’n Duisend goeie dade kan nie een wit leuentjie uit die pad vee nie. Nee, ons kan slegs met genade betaal. Slegs God se genade help ons om deur die lewe te kom. Ja, ons het hope en hope hiervan nodig.
En dan wonder ek hoekom vrede en genade soms in my lewe wegkruip. Is dit omdat mense nie meer die gebed vir my bid nie? Het God se genade en vrede opgeraak? Is dit alles eintlik vir ander mense bedoel en het ek al weer uitgemis?
Nee, ek dink nie die probleem lê aan God se kant nie. God het ons te lief om ons net af te skryf – al maak ons wat. Ek het ’n sterk vermoede dat die probleem aan ons kant lê. Ons het opgehou vra vir God om sy vrede en genade oor ons uit te stort. Soms sien ons die vrede en die genade net nie raak nie en soms is ons lewe van so ’n aard dat ons God nie toelaat om dit in ons lewe te kom neerlê nie.
God sit met skure vol vrede en genade en wil dit so graag vir ons uitdeel. Hy wil ons laat swem daarin. Dalk is dit ’n goeie idee dat ons weer sal erns maak met God se vrede en genade. Ons moet dit vir God vra. Ons moet die seëngebed vir mekaar bid, ons hande na bo draai en ruimte maak sodat God se genade en vrede oor ons kan spoel.
Daarom, Here, bid ek: Vader laat U genade en vrede nou oor elke leser spoel.
Teks
Om oor na te dink
Ervaar jy God se vrede en seën?
Is jy ontvanklik daarvoor?
Vir wie kan jy God se seën toebid?
Gebed
Here, dankie vir U vrede en genade. Graag bid ek die seën van vrede en genade oor my familie, vriende, kollegas, werknemers en sommer ook oor die vreemdelinge wat oor my pad gestap kom. Mag almal om my U genade en vrede ervaar. Amen