God se Woord in vandag se woorde

Swetsend en skellend in onvrede


Jesus se grootste werk op aarde was versoening. 14Jesus was ’n ware vredemaker… en het om elke hoek en draai ’n plekkie gesoek waar vrede nodig is en dit dan juis daar gebring. 15… Jesus het ook gesorg dat daar vrede kom tussen God en hierdie groep mense (wat eers self verdeel was). 16Daarvoor was Hy bereid om sy lewe aan die kruis te gee. Dit het die mense laat besef dat hulle met mekaar in vrede moet leef.

Ek dink nou aan die prostituut wat Jesus by die put ontmoet het. Jesus het haar nie uitgehaal en haar sleggesê omdat sy ’n slegte vrou was nie. Nee, op ’n mooi manier het Hy haar oë laat oopgaan, sodat sy presies kon sien waarheen sy met haar dade op pad was. Maar meer nog, Jesus het haar gehelp om vrede te kry, vrede tussen haar en God, maar ook vrede in haar eie lewe.

Dit was vir Jesus verskriklik belangrik dat daar vrede tussen mense en tussen mense en God moet wees. Hy sou enige iets daarvoor gee en doen. Hy was selfs bereid om sy eie lewe daarvoor te gee. Wat Hy natuurlik gedoen het.

Die vraag is of ek en jy bereid is om ten alle koste die vrede te bewaar, in so ’n mate dat ons selfs ons eie lewe daarvoor sal neerlê? Dit is dalk ’n bietjie moeilik om die vraag in eerlikheid te beantwoord. Dalk is dit makliker om daar waar ons elke dag ons lewe leef, stukkie vir stukkie ter wille van vrede in onsself te sterf.

Wat beteken dit in die praktyk? Dis eintlik eenvoudig: Skuif die eie ek uit die prentjie. Kyk maar terug oor jou eie lewe en die foto’s van die verlede. Die meeste bakleiery was oor dinge waar jy opgestaan het vir jou eie dinge. Wanneer ek en my vrou ’n rof patch slaan, dan is dit gewoonlik omdat sy een ding wil en ek ’n ander, wanneer ons nie eye to eye sien nie. Ek wil haar oortuig van my siening en sy my weer van haar siening. Nie een wil ingee nie en dan is daar ’n ligte skermutseling en die vrede is by die deur uit. Maar as een van ons ’n stukkie in onsself sterf, is daar heeltyd vrede.

Wanneer ons dus sê dat ons soos Jesus moet sterf, beteken dit nie dat ons aan ’n kruis moet gaan hang of ons eie lewe neem nie. Nee, maak eerder jou eie ek so effe stil. Laat die ander een hulle sin kry. Dis eintlik nie so ’n big deal nie. Ter wille van vrede is dit eintlik die moeite werd.

Maar ons sukkel om vir vrede te kies. Ek kan so identifiseer met Susan:

Jy sien, ek het vanmôre met die beste hart in die wêreld opgestaan en toe ek ’n paar minute later in my seun se kamer kom en hy is steeds nie aangetrek nie, toe KIES ek om dit te verloor in plaas van om asem te haal en net kalm te bly.

Needless to say het die res van die oggend al swetsend en skellend verbygegaan.   Ek was op die ou end so omge-ellie dat ek nie eens woorde gehad het om te bid in die kar nie. Ek en my twee kids bid elke oggend in die kar op pad skool toe – it keeps me grounded.

Nou sit ek hier met my skaam gesig en ek voel soos ’n HOND omdat ek vanmôre vir sekelstert so vatplek gegee het in my lewe dat ek nie eens kon bid vanoggend nie!

Ons moet kies om te sterf in onsself. Ons moet kies om soos Jesus daar by die put nie te oordeel en veroordeel nie, maar met wysheid wat van Bo kom ten alle tye veg vir vrede. So ’n stukkie sterf in jouself en weer reghelp, aanhelp, lei en weer probeer. Not easy! Maar ter wille van vrede…

Teks:

Efesiërs 2:11-18

Om oor na te dink

Waar moet jy ’n stukkie terugstaan en in jouself sterf?

Waar kan jy die vredemaker wees?

Wat gaan dit kos?

Gebed

Vader, dankie vir u liefde! Dankie dat ek iets kan leer van vrede en vredemaker. Dankie dat ek nie aan ’n kruis hoef te sterf nie en dat U dit reeds namens my gedoen het. Maar nou besef ek dat ek ook so nou en dan aan myself moet sterf. Daai is nogal nie so maklik nie. Help my asseblief om dit reg te kry. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek