God se Woord in vandag se woorde

Sy kosbare bloed


Ons het al baie daarna verwys, maar dit is goed om weer na die praktyk van sondevergifnis in die Ou Testament te kyk.

Die mense wat in die ou tyd gelewe het, moes self ’n plan maak met die sonde wat hulle aangevang het. Daar moes gedurig diere geoffer word, sodat die mense nie self hoef te sterf vir hulle misstappe nie.

Ons moet twee dinge hier snap. Sonde, verkeerde keuses, verkeerde dade, dinge wat ons doen teen die wil van God, het gevolge. Hiervan kan niemand wegkom nie. Iets moet die pak vat en in die Ou Testament was dit die diere wat geslag moes word.

’n Belangrike element in hierdie slagting was dat die bloed moes vloei. Bloed is die teken van lewe. Bloed neem die suurstof en voedingstowwe na elke plekke in ’n mens en dier se liggaam. As daar nie bloed is nie, is daar nie lewe nie.

Wanneer bloed dan uit ’n dier tap wat geoffer is, is dit die bewys dat die dier dood is en só betaal het vir die mense se sondes. Ongelukkig was die offer nie voldoende vir die daaropvolgende sondes van die mense nie en moes dit gereeld herhaal word.

Daarom maak God ’n ander plan. ’n Ewigdurende plan. ’n Plan wat goed genoeg sal wees vir alle mense op die aarde. Die plan sal goed genoeg wees vir die sondes van die mense wat was en wat nog moet kom. Vir ewig.

19Toe het Jesus die boete kom betaal wat die geestelike tronkdeure vir julle laat oopswaai het. Julle kon weer regtig begin lewe. Hy het nie die boete met goud of sakke vol geld betaal nie, want sulke goed sal later hulle waarde verloor. Nee, Hy het met sy eie bloed betaal en ’n wat ’n groot prys was dit nie!

Dis ’n mooi vertaling wat die beeld gebruik van ons wat eintlik vasgevang was in ’n tronk. ’n Tronk wat onsself gebou het met die sondes wat ons doen. Die mense van die Ou Testament het op pad terug van die offer seremonie maar net weer teruggeklim in die tronk toe hulle verskil het oor iets en wéér gedoen het wat nie reg is nie.

God het gesien hoe die mense vasgevang is en net nie permanent uit die tronk kon bly nie. Maar die plan van God moes ’n plan wees wat vir altyd sal hou. ’n Plan wat vir alle mense se straf moes betaal.

Hiervoor moes die mees duursame betaalmiddel gekry word. Silwer en selfs goud was te lig in die broek. Die enigste duurste, duursame betaalmiddel word toe gekies – Jesus se bloed.

Ja, die kosbare bloed van Jesus moes vloei as teken dat Jesus nie meer lewe nie. Hy was die volmaakte offer. Hy was die Een wat dood moes gaan om te betaal vir die sonde van al die mense op die aarde.

Slegs hierdie waardevolle bloed kon betaal vir al jou sonde. Daar was niks anders wat daarvoor kon betaal nie. Gelukkig was God se liefde vir jou en my só groot dat Hy bereid was om Homself deur middel van Sy volmaakte, vlekkelose Seun se lewe op te offer.

Dit is die middelpunt van ons geloof. Mag dit elke dag die middel van jou wese wees en mag jy die boodskap deur jou dade gaan uitleef en só ook baie ander red.

Teks
1 Petrus 1:17-21

Om oor na te dink
Verstaan jy die belangrikheid van bloed?
Verstaan jy die belangrikheid van Jesus se bloed in jou lewe?
Hoe verander dit jou manier van lewe?

Gebed
Vader, hoe sê ’n mens dankie vir Jesus se kosbare bloed wat gevloei het? Deur die manier waarop ek leef. Mag my dankbaarheid ander ook motiveer om Jesus se offer te aanvaar. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek