God se Woord in vandag se woorde

Te min tyd vir God?


Terwyl ek my dag met stiltetyd begin, ontvang ek ‘n e-pos en om my ADHD gestand te doen, kyk ek eers wat dit is. Dis ’n advertensie van You Version, een van die grootste aanlyn Bybelplatforms in die wêreld. Die onderwerp van die advertensie: No time? No worries. 5-minute Daily Plans.

Dis eintlik skokkend. Het ons só besig geraak dat ons net 5 minute êrens in die dag kan afstaan vir ons God? Hoeveel petrol vir die dag kan ons in vyf minute bymekaarmaak?

Ek dink nie ons besef regtig wat in die geestelike wêreld aangaan nie. As ons werklik besef het wat aangaan sou daar nie 5-minute leesplanne gewees het nie. Nee, daar sou eerder 50-minute planne gewees het.

Daar is ’n oorlog aan die gang. ’n Woeste oorlog waar die bose baie hard baklei en alle stoppe uittrek om jou van God se pad te kry. Vyf minute per dag is nie genoeg om jou voor te berei vir die oorlog nie. As iemand met vyf minute per dag se opleiding na die front gestuur word om in die oorlog te veg, is die kans dat hy of sy gaan verloor 100% gewaarborg.

Ek onthou nog die opleiding wat ek as soldaat en kanonnier gehad het. Ons is hard gedril. Letterlik en figuurlik. Ons is elke dag deur bosse en berge gejaag om top fiks te wees. Ons het ure lank elke dag opleiding gekry. Hulle het met ons koppe gesmokkel om te dink soos hulle wil hê ons moet dink.

Alle kennis van die vyand is oor en oor herhaal. Maar meer nog, ons het presies geweet hoe ons gewere en kanonne werk, want ons het geweet as die paw-paw die fan strike, hang ons lewe daarvan af.

Ons het ’n volle jaar opleiding gehad voordat ons na die grens is om te gaan oorlog voer.

Vyf minute opleiding per dag sou eenvoudig katastrofies wees!

Ek vermoed die wêreld lyk soos dit lyk omdat mense probeer om in vyf minute voor te berei vir die oorlog daar buite. Ek vermoed jy sukkel ook omdat jy dalk nie genoeg tyd in jou dag bymekaarmaak vir voorbereiding vir die oorlog nie.

3Ons kan sê jy is soos ’n soldaat van Christus.

Die blote feit dat ons almal die titel van soldaat ontvang, dui daarop dat daar êrens ’n oorlog aan die gang is. Dis ’n feit soos ’n koei. Vir die oorlog moet ons onsself staal. Ons moet seker maak dat ons voorberei is en dat ons darem ’n kans staan om die oorlog te wen.

En nee, ons hoef nie bang te wees nie, want God se Gees veg saam met ons. Maar ek dink dit is darem net reg dat ons ook ons deel doen en nie al die gevegte vir die Gees los nie. Daarom, maak ’n punt daarvan om jouself voor te berei vir die aanvalle. Maak tyd vir God en bestudeer Sy Woord. Dis hier waar jy die heel beste opleiding vir jou soldaatskap ontvang.

Kom ons sing vandag die kinderliedjie oor en oor:

Ek is nie ‘n stap soldaatjie nie,
‘n ry soldaatjie nie,
‘n vlieg soldaatjie nie.
Ek is nie ‘n skiet soldaatjie nie,
maar ek is Jesus se soldaatjie, ja meneer.

Ja, ek is Jesus se soldaatjie, ja meneer!

Teks
2 Tim 2:1-7

Om oor na te dink
Hoeveel tyd maak jy elke dag vir God?
Is dit genoeg vir die oorlog?
Hoe moet jy anders maak?

Gebed
Here, dankie dat U my graag wil toerus vir die geestelike oorlog wat elke dag rondom ons aan die gang is. Ek besef ek is verantwoordelik om op te daag vir elke toerustingsgeleentheid wat U vir my beplan – elke dag. Help my asseblief om getrou te wees sodat ek nie in die oorlog vernietig word nie. Amen.

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek