God se Woord in vandag se woorde

Terry se storie


Na die mooi verhaal van Paulus se pad deel ek graag ’n moderne weergawe wat ek van Cor van Rooyen ontvang het oor God se ingrype in ’n mens se lewe (skrywer onbekend en name is verander):

Terry se safari

Ek was in my houtwerkkamer besig om ʼn stuk plank in iets bruikbaars te omskep toe my vrou daar inkom. Sy kom nooit daar nie, maar ás sy die dag daar instap, is daar moeilikheid.

“Kyk hier,” sê sy en hou ʼn posstuk na my toe uit. Eers dog ek dis ʼn dagvaarding. Dit gaan partykeer maar sleg by ons.

Ek maak oop en sien tot my verligting dis ʼn uitnodiging… na ʼn troue.

En Terry is die bruidegom.

Vinnig maak ek ʼn paar somme en ek sien dat hierdie Mevrou Terry nommer agt sal wees. Ek word so vaal om die kiewe toe ek sien dis Mevrou Terry nommer een wat weer nommer agt gaan word.

Liesel.

Terry se selfoon is op voice mail en ek besluit ek kan nie wag nie.

Hierdie ding moet ek uit sy eie mond hoor. Ek los alles net so en wip in my bakkie. Die wiele skuif om die draaie tot by Terry se huis. Die bakkie luier nog, toe is ek al by die hond verby, die huis in. Ek kry hom agter by sy lapa. Terry –  nie die hond nie.

“Wat gaan hier aan?” vra ek sonder om te groet en druk die uitnodiging onder sy neus in.

“O, dit” sê Terry toe hy die kaartjie sien. “Ek en Liesel gaan weer trou. Dis al.”

“Trou” sê ek, “trou! Jy wat geen vrou kan uitlos nie!” Ek is geskok en ek is kwaad en sommer nog ʼn paar ander goed wat nog nie name het nie daarby vir die ding wat Terry nou weer met Liesel wil aanvang.

Hy sien dit.

“Sit, ou maat” sê hy en druk my op my skouerknoppe tot ek sit.

Ek sit. En ek wag. Hier, sê ek vir myself, hier het ʼn ding gebeur en ek het nie ʼn clue wat dit is of was nie.

“Piesang nooi my mos toe saam op ʼn jagtog” begin Terry.

Ek weet daarvan. Ek en Piesang het die ding bekook en bekonkel, maar ons het nog nie weer gekuier vandat hulle terug is nie. Piesang het net ge-sms en gesê alles is oraait en ons gesels later en goeters.

“Alles was op die huis. Piesang se besigheid betaal glo alles. Ek was so opgewonde soos in g’n jare nie. Ek was lanklaas in die bos en die safari is op die grens van die Wildtuin. Ek olie my geweer en kry alles reg wat ʼn man moet saamvat jagveld toe.

Verlede Donderdag val ons dou voor dag in die pad. Geweer, koelboks, die lot. Die pad is stil en Piesang is ook nie baie haastig nie. Ons het baie tyd om te gesels. Ons gesels oor alles, maar net nie oor kerk en die klas van goed nie. Piesang weet hoe ek daaroor voel.

Met die afklimslag sien ek die plek is nogal agtermekaar.

Netjies. Later kom daar nog manne aan en ek dink dis ʼn vreeslike safari die. Die plaas moet allemintig groot wees vir so ʼn klomp jagters. Ek sit maar stil eenkant en peuter met my geweer. Ek brand om ʼn rooibok of ʼn koedoe deur die teleskoop te sien. Die manne kyk my so skuinserig aan, maar sê niks.

Later moet ons na ʼn ander kamp toe vir ʼn paar administratiewe reëlings. Dis nou hoe ek dit van Piesang verstaan het. Die ander kamp is sommer loopafstand van ons. Daar aangekom, sien ek ons is op die wal van die Sandrivier.

Die sonnetjie wil net begin sak.

Net toe die safarileier begin praat, steun ʼn leeu so ʼn entjie stroom-op van ons. Ek was die ene hoendervleis. Dis mos nou Afrika hierdie, dog ek so by myself. Die BOS.

Die safarileier bly stil. Hy wag totdat die leeu klaar is met sy verwelkoming. Toe hy so ʼn ent aan die gang is met die administratiewe reëlings – waarvan daar wel ʼn paar was – kom ek agter dat hierdie nie jou gewone safari is nie. Hierdie safari begin ʼn kerkerige geurtjie kry. Trouens, op geen stadium word daar van jag gepraat nie, dis net kerk en geloof en goeters en dinge!

Ek was vies. Ek kyk na Piesang, maar hy maak asof hy nie sien dat ek na hom kyk nie. Ek luister toe maar en ek moet erken, die safarileier, wat toe al die tyd ʼn lid van die spes magte was, maar ook ʼn afgetrede weermag kapelaan is, ken sy storie. Hy praat vanuit sy ervaring as reccé in die bos en op die grens. Hy stel toe ook die ander sprekers aan ons voor: Arrie en Anton en Gerrie en daar is ʼn blinde oom ook. Oom Marius. Hy doen die klank en die opnames.

Ek is nou hier, en ry kan ek nie. Piesang het die kar se sleutel.

Loop kan ek nog minder, want dis leeu wêreld die. Ek berus my in my lot van twee en ʼn halwe dae van kerk en nog kerk. Ek sal maar aan ander goed dink. Dalk is dit nie so lank nie en gaan die tyd vinnig verby.

Eers het ek maar met verdeelde aandag geluister. Later het ek begin dink iemand het die sprekers afgetip oor my, want hulle praat oor al die goed wat in my lewe aangaan asof ek dit self vir hulle vertel het.

Skielik was ek ook nie meer vir Piesang vies nie. Iets was besig om met my te gebeur. Eers wou ek dit nie erken nie.

Later, waar ons alleen is, sê ek vir Piesang wat in my binnekant aangaan. Hy het my sommer vas gevat en ge-hug. Dis die eerste keer dat ʼn man my hug en dit het glad nie vir my verkeerd gevoel nie.

Daardie hug het gesê: “Dis goed so, tjom. Ek is bly, my tjom. Ek is daar vir jou, my tjom.”

Weet jy, hulle praat oor alles. Jou huwelik, finansies, seksualiteit en nog ʼn hele hoop ander goed. Terwyl ek luister, kom ek agter dat die manne ʼn lang pad met die Here geloop het. Die Here het hulle teruggebring op die regte pad na al die verdwaal paaie en skelm voetpaadjies. Hulle is mense soos ek en jy. Niks aanstellerigs of ‘jy moet soos ek wees’ of die klas van goed nie.

Tussenin was daar staptogte in die veld saam met van die aanbieders, wildritte, sterrekyk en stiltetyd in die veld.

Die tweede dag leen die manne vir my ʼn Bybel. Ek het mos nou nie hierdie kerk-ding verwag nie, soos jy weet. Saterdagaand was die cherry op die koek. Toe was dit nagmaal. Ek was oorweldig.

Net daar neem ek my toe voor om op pad terug by Liesel in Bronkhorstspruit aan te gaan. Daar was ʼn paar goed wat ek vir haar wou sê.

Daardie troukaartjie in jou hand is die resultaat van wat ek vir haar wou sê. Die kinders is net so bly.”

Daar is ʼn lastigheid in my oë.

“Ou maat, jy kyk nou na ʼn ander Terry”, sê Terry en hy vee op sy beurt ook ʼn vogtigheid uit sy oog terwyl hy ʼn nuwe Bybel effens eenkant toe skuif.

Ek trek hom uit die stoel orent. “My ou máát,” sê ek en ek húg hom.

Mag ek en jy ook so maak orals waar ons gaan.

Teks

Galasiërs 1:11-24

Om oor na te dink

Waar kan jy ’n impak in iemand anders se lewe maak?

Gebed

Vader, U is almagtig. By U is niks onmoontlik nie. Ek wil met alles in my U getuie wees, orals waar ek gaan. Help my om op te staan teen die aanvalle van die wêreld. Help my om die voertuig te wees wat u gebruik om ’n impak in ander se lewens te maak. Amen

Sluit Aan


Besoek ons web-winkel om Kruispad leesstof aan te skaf

Besoek ons winkel
Kruispad Boek